Tuis Registrasie Slegs vir die dominee Die droomkis Die oudit-aktetas Die aksie-reistas Die gereedskapkas Die evaluasielaai Terug na verwelkomingsblad


Aksie-Reistas

Inleiding

Die aksie-reistas wat help met ontwikkeling van praktiese planne aan die hand van ‘n proses.

Inhoud:

Inleidende artikels

Artikel 1 :Ontsluit gelowiges se volle potensiaal

Artikel 2 :Van toeskouers tot deelnemers

Artikel 3 : Kinders is volwaardige lidmate

Bedieningstrategie

Inleidend : Twee paralelle prosesse

  • Skematiese voorstelling:
    • Gemeentelike proses
    • Prosesbenadering met betrekking tot lidmate

Aksieplanne

  • Binne die gemeente
  • Kerkbegrip en indentiteit (Wat beteken kerkwees en hoe behoort die

kerk te funksioneer?)

  • Strukture

Herstrukturering van bedieninge en strukture

Die rol van die kerkkantoor en administrasie

  • Lidmate en hulle gawes
  • Eienaarskap deur lidmate
  • Lidmaatoriëntering
  • Programme, projekte en aktiwiteite
  • Toerusting
        • Geestelik
        • Prakties
        • Sensitiwiteit vir verskillende spiriltualiteite
        • Binne die gemeenskap
        • Uitreike in die omgewing
        • Volhoubaarheid
        • Is ons deur al die fases?

Doelwit van die aksie-reistas: Die gemeente stel realsitiese aksieplanne in werking en mobiliseer lidmate vir bedienings en uitreike na die omgewing

Uitkomste van die aksie-reistas: Die gemeente se identiteit in Christus is herbevestig

Aanpassing tov administrasie, strukture, bedienings is gemaak

Rolle in die gemeente is duidelik uitgeklaar Aksieplanne vir die inskakeling en motivering van lidmate is opgestel

Lidmate se gawes is bepaal en hulle is by bedieninge ingeskakel Daar is bepaal watter toerusting lidmate nodig het Uitreikprojekte in die omgewing is bepaal Projekleiers vir uitreike is aangestel

--0--

Inleidende Artikels

Artikel 1 : Ontsluit gelowiges se volle potensiaal.

Die opskrif laat mens wonder watter soort potensiaal word bedoel en wat is die bedoeling van hierdie potensiaal? Verder moet hierdie potensiaal benut word. Indien dit nie benut word nie, is die vraag: hoekom nie?

Watter potensiaal?

Jy moet nie oppervlakkig na ’n gelowige kyk nie. Gelowiges is mense wat deur die Heilige Gees nuut gemaak is, weer gebore is. Dit beteken dat jy ’n nuwe identiteit gekry het. In Efesiërs 2:8 stel Paulus dit so: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie;... God het ons gemaak wat ons nou is”.

Met die nuutmaak het die Heilige Gees kom besitneem van die gelowige. Daarom word die gelowige die “tempel van die Gees” genoem (1 Kor 3:16 & 17 en 6:19 & 20).

Dit het natuurlik ’n hele paar dinge tot gevolg:

  • Die Heilige Gees dra vrug (Gal 5:22) en kyk net wat is die kenmerke daarvan: “liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing”.
  • Die Heilige Gees rus elke gelowige toe met bepaalde gawes (1 Kor 12).
  • Daarmee saam vul die Heilige Gees elke gelowige met ontsettende krag (Hand 1:8). Van hierdie krag sê Paulus elders: “Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het” (Ef 1:19b & 20).

Wonder jy nog watter potensiaal jy as gelowige het?

Die vraag is net: wat is die bedoeling van hierdie potensiaal?

Hoekom gee God dit vir sy mense?

God se bedoeling met ons potensiaal

God gee aan ons hierdie potensiaal omdat dit ons in staat stel om God te verheerlik (Mat 5:14). Dit is God se manier om sy liefde aan die wêreld bekend te stel. Dit alles word saamgevat met die woord “roeping”. God gee aan elke gelowige ’n roeping. Dit is nie net dominees wat ’n roeping van God ontvang nie. Elkeen van ons het ’n roeping. Behalwe ’n bepaalde manier waarop God elke gelowige wil gebruik, wil Hy ons almal gebruik om sy liefde van Johannes 3:16 die wêreld in te dra. So het ons elkeen die verantwoordelikheid om in hierdie wêreld ’n verskil te maak. Dit gaan dus nie om onsself nie, maar om die wêreld. Daarom mag ons nooit ons godsdiens so beoefen dat dit maar net om ons eie saligheid gaan terwyl die wêreld rondom ons onaangeraak bly nie.

Of jy hierdie potensiaal benut, kan net jy self antwoord. Kom ons kyk net kortliks na ’n paar dinge wat dikwels veroorsaak dat hierdie potensiaal onbenut bly.

Potensiaal-verwoesters:

  • die wanpersepsie dat gewone gelowiges nie ’n roeping het nie;
  • onkunde oor die gawes van die Gees;
  • die onvermoë van leiers om strukture en strategieë daar te stel om gelowiges in gemeentes te help om hulle volle potensiaal te ontwikkel;
  • die onvermoë om te verstaan dat die koninkryk van God ’n belangriker grootheid is as die kerk.

Artikel 2: Van toeskouers tot deelnemers

Die ideaal vir enige gemeente is sekerlik dat elke lidmaat aktief betrokke sal wees. Ongelukkig is die persepsie in baie gemeentes nog dat ’n aktiewe lidmaat iemand is wat die eredienste bywoon en die kerk finansieel steun. God het veel groter verwagtings van elke Christen. God vra dat ons ons gawes vir diens beskikbaar sal stel. Indien die geweldige lidmaatpotensiaal wat nog onderbenut in baie gemeentes is, ontsluit kan word, sal die kerk en Christendom letterlik uit sy nate bars.

Volgens Markus 10: 45: “Die Seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien.”

Lidmate wat hulle roeping ernstig neem, besef dat hulle nie bedien moet word nie, maar moet dien. Elke Christen word geroep om ’n dienaar te wees. Lidmate moet die wêreld se nood raaksien, leer omgee, en hulle gawes gebruik om hoop te bring en ’n verskil in ander se lewens te maak. Die vrug van die Gees moet sigbaar word in elke lidmaat

Tradisioneel was dit die taak van predikante en die kerkraad en hierdeur het baie lidmate verleer om hulle gawes te gebruik. Toerusting is dus nodig om opnuut die vaardighede wat lidmate verloor het, aan te kweek en in te oefen. Onbenutte talente verroes en jy verloor die gawe.

Vernuwing moet binne ’n proses bestuur word. Die leierskap moet ’n duidelike proses aanvaar waarvolgens gemeente- of bedieningvernuwing gaan plaasvind. Dit is nie slegs ’n kursus wat aangebied word nie. Dis ’n voortdurende proses waarbinne die hele gemeente saam op weg is.

Alhoewel baie gemeentes dit besef, sukkel hulle soms om die praktiese aanpassing te maak. Die keuse van strukture en modelle moet die unieke behoeftes van die gemeente in ag neem.

Die volgende riglyne kan moontlik help:

  • Maak seker dat die gemeente ’n duidelike doelwit of visie het! Kommunikeer dit herhaaldelik aan die gemeente.
  • Elke lidmaat moet weet waar hy/sy binne die liggaam inpas. Ook watter bydrae sy gawe tot die bereiking van die visie maak.
  • Maak seker dat daar ’n ruimte/bediening binne die gemeente is waar lidmate hulle gawes kan uitleef.
  • Die predikant moet as afrigter (coach) die geestelike gewoontes/dissiplines en vaardighede van lidmate oefen. Almal is op die veld en niemand sit en kritiseer vanaf die pawiljoen nie. Die predikant is dus voltyds besig met opleiding en toerusting, sodat lidmate toegerus is vir diens.(Ef 4:12)
  • Lidmate moet begelei word om hulle gawes en passie te ontdek. Indien lidmate aangewend word waar hulle passie is, en nie slegs waar vakatures is nie, sal daar baie minder onbetrokke lidmate wees.
  • Strukture van kerkrade moet lidmaatdeelname aanmoedig en dit nie moeilik maak om jou gawes te kom aanbied nie. Lidmate is net so kreatief as wat die struktuur hulle toelaat!
  • Daar behoort ook ruimte te wees vir die ontwikkeling van spontane gawegroepe. Dit kan getoets word aan die hand van die kerk se leerstellings sowel as die gemeente se waardes en visie.
  • Lidmate moet weet dat hulle saam as een liggaam funksioneer en interafhanklik van mekaar is. Ons werk saam as ’n span om die visie na te streef.
  • Die bestuur van gemeentes behoort al minder mense te betrek sodat al meer lidmate by bedienings betrokke kan raak. ’n Lidmaat met visie vir ’n bediening moet nie in vergaderings en bestuur verval wat sy/haar entoesiasme en geesdrif sal demp nie.


Gemeentes wat ruimte vir lidmaatbemagtiging skep, sal ongekende nuwe energie en kreatiwiteit losmaak. Bemagtigde lidmate sal selfgemotiveerd hulle potensiaal en gawes gebruik tot eer van God!

Artikel 3: Kinders – Volwaardige lidmate van die gemeente

Wanneer ons kinderbediening hoor, dink ons aan:

  • ’n doopgeleentheid;
  • ‘n kinderdiens;
  • Sondagskool, kinderkrans, SKJA of kampe.

Indien gemeentes by kinders se Godservaring en hul unieke uitkyk op die lewe wil aansluit en deur hul kindwees verryk wil word, sal ons diep moet nadink hoe om kinders prosesmatig by die totale gemeentelike lewe in te sluit.

Eerstens moet daar gekyk word hoe volwassenes binne die geloofsgemeenskap oor kinders dink, want dit is vormend vir die gemeente se verhouding met en bediening aan kinders.

Die volgende vrae kan in gemeentes bespreek word om volwassenes bewus te maak van hul beskouing van kinders:

  • Wat is kinders se plek en status in ons gemeente?
  • Hoe voel u oor kinders se bywoning van en deelname aan die erediens en ander gemeentelike aktiwiteite?
  • Watter plek behoort onderrig/lering te geniet binne die kerk se bediening van kinders?
  • Wanneer behoort kinders deel te kan hê in die totale gemeentelike lewe?
  • Het kinders ook verantwoordelikhede in die gemeente? Indien wel, vertel ons meer van kinders se verantwoordelikhede.
  • Dink u volwassenes kan by kinders leer? Indien wel, beskryf hoe ons gemeente hierdie leer tans fasiliteer. Enige voorstelle hoe ons dit kan verbeter?
  • Waaraan /waarvolgens word kinders se waarde as mens na u oordeel in ons gemeente gemeet?
  • Kan kinders waarde tot die totale gemeentelike lewe toevoeg? Indien wel, verduidelik u verstaan van die waarde wat kinders kan toevoeg? Hoe kan ons gemeente hierdie waardetoevoeging fasiliteer?

As gemeente kan die proses begin deur volwassenes se beskouing van kinders uit te daag. Judith Gundry-Volf lig vier beklemtonings van Jesus se identifikasie met kinders uit wat tydens fasilitering gebruik kan word :

  • Jesus identifiseer kinders as kosbare geskenke wat versorging en diens verg. Kinders is broos en afhanklik en moet daarom deur elkeen wat die Koninkryk van God soek met nederigheid en deernis gedien word.
  • Kinders word identifiseer as mede-ontvangers en modelleer toegang tot die heerskappy van God. Hulle is ontvangers van God se heerskappy. Dis hoofsaaklik omdat saam met die armes en verdruktes hulle in sosiale status kortkom. Hulle bring niks na God en vertrou eenvoudig op die goedheid van God. Kinders wys vir ons die regte wyse waarop God se heerskappy ontvang kan word – met ’n gesindheid om in volle afhanklikheid op God te vertrou.
  • Kinders word identifiseer as diegene wat ware insig in geestelike dinge het. Die geestelike insig van kinders berus nie op hul opvoeding/geleerdheid nie, maar op hul openheid om voertuie vir goddelike openbaring te wees.
  • Kinders verteenwoordig Jesus feitlik, sodat diegene wat kinders hartlik ontvang ook vir Jesus en God ontvang.

Uit bogenoemde is dit duidelik dat volwassenes kinders hartlik moet ontvang - en ook nodig het. Gemeentes kan die volgende praktiese voorstelle gebruik om kinders se deelname te bevorder:

  • Kinders kan die ruimte waarin die erediens plaasvind, versier.
  • Kinders kan by ’n formele erediens die voorsang, votum, seëngroet, belydenis en skriflesing op ’n deelnemende kindgerigte wyse saam met die gemeente geniet en dan uitbeweeg na ’n “kinderkerk” waar dieselfde teksgedeelte as in die erediens hanteer word.
  • Wat van ’n koor wat alle generasies in die gemeente verteenwoordig?
  • Daar kan moeite gedoen word om nie net volwassenes as nuwe intrekkers binne ’n gemeente te verwelkom nie, maar ook spesifiek die kinders - deur ander kinders!
  • As ’n kind in die gemeente siek is, gaan kuier saam met ander kinders van die gemeente daar. So leer kinders ook dat ons in ’n gemeente vir mekaar sorg.
  • Kinders kan selfs tot die gemeente se basaar bydra deur hul eie tafel te hê waar kinderprente en kaartjies verkoop word.

’n Uitdaging aan gemeentes!

Skep spesiale geleenthede in die jaar waar kinders se godgegewe gawes van kinders erken en gevier word. Gemeentes kan dan alle persone wat betrokke is by die gemeente se kinderbediening, asook hulpverleningsdienste in die gemeenskap wat omsien na kinders se behoeftes, bedank.

Daar kan gedink word aan ’n Nasionale Kinder-Sondag in die Nasionale Kinderbeskermingsweek vanaf 28 Mei tot 3 Junie (Nasionale Kinderdag 1 Junie). Op die eerste Saterdag van November word Nasionale Kinderdag gevier.

Kom ons maak kinders al meer deel van ons gemeentes! Dit kan meebring dat kinders ’n sterker verbintenis tot God en Sy kerk ontwikkel en ’n ruimte gegun word om as aktiewe geloofsagente die gemeente tot seën te wees.

WAT HET TOT NOU IN DIE GEMEENTEVERNUWINGSPROSES GEBEUR?

Die gemeente het reeds:

  • preke, gesprekke, bybelstudies gedoen om roeping, liggaamsmodel en elke lidmaat se plek binne die Liggaam te verstaan;
  • ’n rimpel/leierspan saamgestel wat die proses begelei;
  • biddend saam na die wil van God gesoek;
  • ’n visie opgestel;
  • oudit van die gemeente, omgewing, bronne in die gemeente en lidmate se gawes gedoen.

Ons weet dus:

waar is die gemeente (oudit);

wat is positief (sterk punte);

wat is negatief- waaraan moet ons werk (swak punte);

waar wil ons uitkom - die ideaal (visie).

Die visie is net ’n lokomotief sonder spore. Aksieplanne en struktuur hou die proses op koers en dit is wat nou gedoen gaan word.

Bedieningstrategie

Die gemeente is dus nou besig met aksieplanne in die gemeente en gemeenskap:

  • hoe kom ons daar (by die ideaal);
  • watter aanpassings is nodig ;
  • hoe bemagtig ons lidmate om deel van die proses te wees;
  • tydskale ( lang, medium, kort termyn);
  • hoe bly dit volhoubaar?

Elke gemeente is uniek en elkeen sal die strategie by hul unieke karakter en omstandighede moet aanpas .

Kliek vir Gereedskapkis:

Rimpel-artikel: Strategiese beplanning vir dinamiese gemeentes - Johan van Schalkwyk - Praktiese planne en evaluerings-materiaal

Aksieplanne vir die reis :

Inleidend

Aksieplanne is belangrik, maar dit is ook baie belangrik om te besef dat die proses tyd neem

  • Dit neem tyd om op die Heilige Gees te wag.
  • Dit neem tyd om aan nuwe idees gewoond te raak.
  • Dit neem tyd om verandering te bestuur.
  • Dit neem tyd om self konflik agv die proses te hanteer.

(Matt 10:34)

  • Dit neem tyd vir lidmate om hulle gawe en passie te ontdek en daarin te glo.
  • Dit neem tyd om die vertroue van die gemeenskap te wen.
  • Dit neem tyd om vertroue met vennote in die omgewing op te bou.
  • Dit neem vier -vyf jaar om so ’n proses te lei.
  • Moenie gelyktydig aan te veel sake/aktiwiteite werk nie.
  • Begin met ’n paar en evalueer gereeld.
  • Begin egter dadelik om iets te doen.
  • Moenie wag tot alles eers perfek is voordat die gemeente tot aksie oorgaan nie.
  • Aksie is soos suurstof en wek nuwe energie op.
  • Maak liewer aanpassings soos julle aangaan as om niks te doen nie.

Die implementering van die strategiese plan behels twee parallelle prosesse:

Eerstens:

  • Die aksieplanne binne die gemeente (strukture, ens) soos afgelei uit die visie, doelstellings en doelwitte word in werking gestel.
  • Dit word gewoonlik gedoen deur die leiers, kommissies, werkgroepe en individue in die gemeente.
  • Daar is dus binne die gemeente ’n proses aan die gang.

Tweedens:

  • Die hele gemeente word gemotiveer om eienaarskap te aanvaar en deel te word van die proses.
  • God roep elkeen van ons om die deel te word van die Groot Opdrag. Dit beteken dat elke lidmaat se daaglikse lewe beïnvloed sal word, aangesien ons nou as gestuurdes in die wêreld uitgaan.
  • God roep ons ook om as gemeente ’n verskil in ons omgewing te maak en in ’n bediening betrokke te wees.
  • Daar is dus deurlopend ’n proses met lidmate aan die gang.

Skematiese voorstelling van die twee paralelle prosesse:

Gemeentelike proses (Konteks/samelewing analise en aksieplanne)

[Terug na bo]

[Teken uit]
© 2009 Rimpels. Alle Regte Voorbehou.