Inhoud:
::
God se droom vir ons
:: Alles begin by God
:: Die rol van gebed as ons begin droom
::
Die voorbereidende fase en ontvriesing
Holistiese benadering
Die Heilige Gees en bemagtiging
Die Woord en bemagtiging
‘n Visioneringsproses wat uitloop op ’n realistiese visiestelling.
Hou die groter prentjie in gedagte
:: Bespreek die droom met rolspelers: leiers, kerkraad of bestuursraad en lidmate
Doelwit: Die daarstel van ‘n visioneringsproses wat uitloop op ‘n duidelike, realistiese en eenvoudige visiestelling vir die gemeente. Die doel is nie om net ‘n visie teen die muur te kry nie maar die visiestelling motiveer die gemeentelede onder andere om in dieselfde rigting te beweeg. Uitkomste: - Die gemeente fokus opnuut op God se Woord en Sy Gees.
- Die roeping en gestuurdheid van die gemeente word hernu.
- Die unieke potensiaal van die gemeente word herontdek.
- Die identiteit van die gemeente word herbevestig.
- God se Gees kry ruimte om nuwe beweging, opgewondenheid en energie in die gemeente wakker te maak.
God se droom vir ons (Joh 3:16; Joh 20:21) Hoe kan ons in ’n veranderende wêreld kerk wees? Ons weet dat God die wêreld baie lief het en dit op 'n spesiale manier deur die menswording van Sy Seun aan die wêreld kommunikeer. Is daar ’n droom wat ons kan najaag wat in lyn met God se liefde en sending na die wêreld is? Ons weet: - God roep ons om ’n verskil in die wêreld te maak.
- Die bedoeling is om in ons eie omgewing ’n impak te maak en so die gemeenskap te bereik.
- Gemeentes kan nie net vir hulle eie lidmate bestaan nie, maar behoort in mense se leefwêreld in te beweeg.
- Lidmate behoort die samelewing te “dien.” Hulle behoort nie net in gemeentes “bedien” te word nie.
- Die gemeente behoort te beweeg van “instandhouding” na ’n gestuurde (missionêre)gemeente. (Missio Dei)
Binne bogenoemde missionêre roeping het God vir elke gemeente sy eie unieke droom. Ons weet ook dat alles by God begin! - Dit is Sy Gees wat ons nuutmaak (Joh 3) sodat ons God se kinders kan wees (Joh 1:12)
- Dit is Sy Gees wat ons laat getuig (Han 1:8)
- Dit is Sy Gees wat ons versterk en by God vir ons intree (Rom 8)
- Dit is Sy Gees wat ons laat dien deur die gawes wat Hy aan ons gee! (1 Petr 4)
Alles begin by God (Goddelike Rimpels wat menslike rimpels word) ’n Gemeente maak ’n nuwe begin wanneer hulle biddend soek na die Here se wil en vra dat Hy sy plan aan hulle bekend maak. Hý sal die gemeente wys watter rol hulle in die gemeenskap moet speel. Dit is deurslaggewend dat die gemeente haar unieke bestaansdoel en funksie binne God se plan vir hulle betrokke omgewing verstaan. Die rol van gebed as ons begin droom Gebed is die krag wat die hele proses van nadenke en die ontwikkeling van ’n nuwe bediening of vernuwing in ’n gemeente dra. Die rimpelspan beplan dit met die volgende in gedagte: - Laat die gemeente haar verootmoedig voor die Here oor moontlike te korte en selfs sondes soos byvoorbeeld ongehoorsaamheid, gebrek aan …
- Doen daarna skuldbelydenis en aanvaar God se vergifnis.
- Gebed bring jou tot rus en bring helderheid. Dit help jou om al jou gedagtes voor die Here neer te lê en probleme en moontlike struikelblokke te oorkom en raak te sien.
- Gebed bind die lidmate, beplanners, praters en al die idees saam. Die gemeente hoor mekaar, pleit en praat, hulle raak bewus dat hulle gedagtes net mense-gedagtes is en dat God deur sy Gees, die Leier is.
- Fokus op gebed help die gemeente al beter verstaan dat dit nie gaan om wat die gemeente graag wil hê moet verander nie, maar wat God se plan met die gemeente is.
Praktiese idees Die leierspan kan ’n program saamstel waarvolgens hulle die proses wil lei. - Lidmate, sel-, gebeds- en kleingroepe moet gereeld deur middel van sms'e, epos en die gemeente se webblad van versoeke vir gebed in kennis gestel word en daar moet ook terugvoering oor gebwedsverhoring gegee word.
- Reël gebedsdae bv Saterdagoggend van 06:00 tot 10:00 of Sondae tydens die eredienste.
Wat kan die inhoud van sulke gebedsgeleenthede wees? - Lofprysing, danksegging, aanbidding (kyk gerus na Woord-rimpels in die Gereedskapkas) moet voorop staan.
- Dink na oor sake soos ongehoorsaamheid, gebrek aan Bybelstudie en opregtheid, hoogmoed, selfsug, onbetrokkenheid, konflik tussen lidmate, ens. wat kan verhinder dat die gemeente die Here se stem hoor (vgl Jes 59).
- Doen voorbidding vir ’n nuwe pad, nuwe denke, insig en wysheid, opregtheid, dat God se Woord sentraal sal wees, dat die gemeente sal luister wat die Here sê en hoe Hy wil hê die gemeente moet funksioneer.
- Bid vir ’n gees van eensgesindheid en liefde onder mekaar.
- Bid dat elke leier en lidmaat sy/haar beperking sal ken, maar veral hul gawes sal ontdek en beskikbaar stel, ens.
- Daar moet ook tyd gemaak word vir elkeen om alleen in afsondering te bid. Dit kan volgens ’n program gedoen word, maar veral moet daar genoeg tyd wees om net stil te word voor die Here en te luister na die influistering van die Gees en die Woord. Partykeer spreek die Woord jou aan, ander kere jou omgewing, of miskien herinner die Here jou aan iets.
- Tydens voorbidding moet daar veral gekonsentreer word op die vraag: Hoe wil die Here hê die gemeente moet binne sy koninkryksplan vir die wêreld inpas?
Gebed en Bybelstudie is ’n avontuur en risiko omdat die gemeente nooit weer dieselfde sal wees nie. Dit dwing jou om nederig te word en te besef dat ons slim planne nie altyd werk nie. Gebed is al manier om God se wil en bestaansdoel vir julle gemeente te ontdek. Kliek hier vir die gereedskapkas: Rimpel-artikel: ’n Gestuurde Kerk Voorbereidende fase en ontvriesing Vrae waaroor duidelikheid gekry moet word is bv: - Wat is die verskil en verhouding tussen kerk, plaaslike gemeente en koninkryk van God?
- Wat is die gemeente se roeping?
- Wat vra Hy van jou as leier en lidmaat?
- Hoe funksioneer die Liggaam van Christus?
- Wat is die gawes van die Gees?
Die leiergroep kan ook gaan kyk hoe werk dit in ander gemeentes en kerke. Daar moet egter daarteen gewaak word om sonder meer ander gemeentes/kerke se manier van doen klakkeloos na te aap. Gewoonlik besef ’n kerkraad verandering is nodig wanneer: - vrae oor die bediening en relevansie van die kerk gevra word;
- hulle begin agterkom dat strukture en/of bedienings vernuwing nodig het;
- bekommernis oor die groei in hul gemeente groter word;
- finansies begin knyp en dit nie meer goed in die gemeente gaan nie;
- die lidmate begin dros en ander gemeentes/kerke besoek;
- die eredienste nie meer lewendig, sprekend en opbouend is nie;
- lidmate besef jy kan alleen geestelik groei indien jy ‘n aktiewe medewerker in die gemeente en ’n lewende getuie in die wêreld is.
Wanneer ’n proses van vernuwing aangepak word, besef die gemeente hul totale onvermoë en diepe afhanklikheid van die leiding van die Here. Die hele proses moet in diep afhanklikheid van die Heilige Gees geskied. Die Kerkraad/leierspan se rol Die kerkraad sal algaande ’n unieke model vir die gemeente se behoeftes moet ontwikkel. Verandering moet bestuur word met wysheid en sensitiwiteit. Die rol van die predikant en die leierspan is krities vir die proses . Dit is ook belangrik om te sorg dat kerkraadsbesluite voorsiening vir die proses maak. Dit bespoedig aksie wanneer aksieplanne later opgestel word. Wanneer die gemeente besluit dat vernuwing nodig is, is dit nodig om ’n leierspan (rimpelspan) saam te stel. Die rimpelspan behoort uit leiers, kerkraadslede, mans en vroue, gewone lidmate, jonges, oues saamgestel te word. Die beste is gewoonlik om vrywilligers te vra om in die span te kom dien. Hulle moet in ’n verhouding met God staan, ’n gesonde geestelike leefwyse beoefen en ’n voorbeeld vir ander wees. Wees inklusief sonder om die span te groot en lomp te maak. Die span moet ’n gesamentlike passie en visie deel, kan aanpas, die visie enduit kan dra en die “spark” gee om die proses aktief te hou. Hulle moet eerlik saam met die gemeente soek na die Wil van God vir hulle unieke omstandighede en die gemeente kan inspireer en motiveer. - ’n Holistiese benadering
Dit is baie belangrik om die groter prentjie te sien en holisties na die gemeente te kyk. Die leiers behoort seker te maak dat hulle die volgende duidelik verstaan en opnuut besin oor hoe die proses in al die verskillende areas geïntegreer gaan word. Binne ’n holistiese verstaan van gemeentewees is die volgende waar: - Die gemeente verstaan die Groot opdrag van God. (Missio Dei)
Die gemeente integreer dissipelskap en evangelisasie en verstaan God se opdrag vir sy kerk al beter naamlik dat die opbou van die gemeente moet uitloop in die bereiking van die gemeenskap om ons. - Beoefen ’n dinamiese spiritualiteit.
Die gemeente sentreer rondom die aanbidding van die Drie- enige God, en word gelei deur die gesag van Sy Woord. Hulle vier hul vrymaking deur die geloof en weet dat God groei deur Sy Gees bewerkstellig. - Beoefen ’n gesonde gemeentelike dinamika.
Vestig ’n ruimte waar liefdevolle verhoudings onderling kan groei (koinonia), en die lidmate mekaar met hulle gawes bedien. - Beoefen ’n missionêre bedieningspraktyk.
Gemeentelede word opgelei en toegerus om al beter te verstaan dat die gemeente as geheel en elkeen afsonderlik geroep is om 'n verskil in die wêreld te maak.
Hierdie beginsels behoort aan die gemeente gekommunikeer te word. Kliek hier vir Gereedskapkas vir hulp met: Preek-rimpels Woord-rimpels (Bybelstudies) Wat bedoel julle met “Rimpels?” Wanneer mens ‘n klippie in ‘n dam gooi, toon die rimpels wat gemaak word aan dat die klippie se inval baie verder effek het as net die plek waar dit geval het. So gebeur dit ook wanneer die gelowige die Here in hierdie wêreld dien. ’n Christen is bekragtig en word ge-energeer deur die Heilige Gees. Bemagtiging gaan oor die geïnspireerdheid van lidmate en die bevordering daarvan. - Jesus praat in Hand 1:8 van “krag” wat ontvang word. Die soort “krag” is besondere geestes- en sielskrag, wat ook verbindingslyne het met Jesuskrag, dunamiskrag, opwekkings-, opstandings- en dinamietkrag.
- Dit is die geestes- en sielskrag vanuit ’n Bron (Die Drie Eenheid) wat vloei en deurvloei en wat bloot gekanaliseer word deur vrugdraende gelowiges (Joh 15 Jesus die Wynstok en ons die lote en Gal 5:22).
- Dit is troos- en deerniskrag, sensitiwiteitskrag - veral in ’n tyd soos hierdie want die Heilige Gees se ander naam is Trooster!
- Die gelowige is gerat in sy siel om ’n rimpeleffek in sy gemeenskappe te maak.
- Die krag wat van die Heilige Gees ontvang word, sit die bekragtiging- en besielingsproses aan die gang.
Dit inspireer gelowiges voortdurend dat hulle nie probleemgerig nie, maar oplossings- en uitkomsgerig is en waarde toevoeg in oënskynlike hopelose situasies Kliek hier vir die gereedskapkas vir: Belangrike Woord-rimpels (Bybelstudie) om oor na te dink. Na die voorbereidende fase waarin die hele gemeente, groepe en individue vir ’n tyd saam gebid het, kan die gemeente saam aan ’n visie werk. Kyk na Pat Keifert se boek Ons is nou hiér (sien bl 92). Dis belangrik om vyf dokumente tydens hierdie fase op te stel: - roepingsverklaring van die gemeente se roeping;
- ’n visie vir die beliggaming van die roeping van gestuurd wees;
- ’n strategiese bedieningsplan (Sien Aksie Reistas);
- SMART Aksieplanne (Sien Aksie Reistas);
- ’n leiersverbintenis.
Die Roeping van die gemeente: Betrek soveel moontlik lidmate (jonk, oud, mans, vroue, getroud, ongetroud, nuwes en oues asook persone wat maklik verander en ook die wat moeilik verander) by die saamstel van die span wat saamdink. Die gemeente het reeds die voorbereidende fase gedoen en almal weet dat die gemeente biddend luister na wat God vir die gemeente sê. Gelukkig is daar geen planmatige resep vir ’n gemeente wat wil opstaan en ’n nuwe koers inslaan nie, want die Here het vir elke gemeente sy eie plan. Dit kan oor ’n paar sessies geskied. Gebruik ook vrae soos voorheen genoem as vertrekpunt en agtergrond om die wil van God vir julle gemeente te ontdek. Die volgende “Godsvrae” kan verder help: - Wie is God vir julle?
- Waarmee is God besig in julle omgewing?
- Wat sê God herhaaldelik vir julle?
- Hoe beleef julle God se teenwoordigheid op die oomblik onder julle?
- Aan wie behoort julle gemeente?
- Wat is God se droom vir julle gemeente?
- Waartoe roep God julle?
- Na wie stuur Hy julle?
Die volgende gespreksvrae kan help om die gemeente se roeping te verstaan: - Bespreek Ferdinand Deist se stelling: Ons is die teenwoordigheid van Christus in die wêreld. In watter mate kan jy jou in jou eie gemoed daarmee vereenselwig?
- Hoe sal jy dit aan iemand anders verduidelik dat die kerk die voortgesette inkarnasie van Christus is?
- Wat doen dit aan jou as lidmaat van die kerk?
- Hoe sal jy dit aan iemand anders verduidelik dat die kerk die voortgesette inkarnasie van Christus is? Wat doen dit aan jou as lidmaat van die kerk?
- Hoe bruikbaar vind jy die beeld dat ons as gelowiges die liggaam van God se liefde is wat uit verskillende dele bestaan?
- Wat gebeur dus as ons NIE ons unieke gawes uitleef nie?
- Op watter doodgewone maniere sien jy dat gelowiges die wêreld bereik met die liefde van Christus?
- Wat dink jy kan gemeentes doen om lidmate ten volle te bemagtig om voorbeelde te wees van God se liefde?
- Op watter posisies, simbole of tekens van eer is mense in ons dag nogal ingestel?
- Is daar ook in die gemeente tekens hiervan?
- Wat sien jy as die belangrikste kenmerke van ‘n gelowige in God se Koninkryk?
- Vertel vir mekaar uit persoonlike ervaring van gelowiges in die Here wie se getuienis ‘n groot impak op jou lewe gemaak het.
- Wat is die lewensgeheim van elke gelowige kind van God wat deel is van Sy Koninkryk?
Beginsels vir goeie doelwitte: - Helder verstaan van God se wil vir julle gemeente;
- Doelwitte moet bereikbaar en konkreet wees
- Daar behoort ’n “gestuurdheid” en ’n “gerigtheid” in die doelwitte te wees.
Hou die groter prentjie in gedagte? Die dominee is die een wat die wyer prentjie van die proses en die roeping van die gemeente deurlopend saam met die gemeente ontdek en hernu. Hy is die bevorderaar van eenheid en samehorigheid. - Die leraar behoort oor die groter prentjie te beskik en jaloers te waak oor die eenheid (Joh 17) wat dié kenmerk van Christelike identiteit behoort te wees.
- Eenheid is ’n kenmerk wat gelowiges reeds in Christus het. Soos die Drie-Eenheid een is, is gelowiges een en dit het ’n rimpeleffek in hulle omgewing! Vanuit hierdie eenheid lewe en beweeg die gelowige.
- Dit is die leraar se taak om hierdie soort eenheid tydig en ontydig te verklank. Veral binne ’n diverse samelewing van mense en verskillende spiritualiteite. (Godsbelewinge - sien Tas 3 en 5 oor Verskillende Spiritualiteite – PowerPoint.)
- Een van die uitstaande kenmerke van ons identiteit as lidmaat van die kerk is:
Eenheid met/soos die Drie-eenheid en ook met mekaar: een van sin; een van hart; een van verstand; as ’n voorbeeld en getuienis vir die omgewing waarbinne ons geplaas is. Die groter prentjie of perspektief wat die dominee het, is dat hy besef dat in die eendragtige optrede van die gemeente in die gemeenskap, dit ’n geweldige rimpeleffek juis op die gemeenskap kan hê! Bespreek droom met rolspelers – leiers, kerkraad of bestuursraad en lidmate Die visie moet kort en eenvoudig wees. Elke lidmaat en kind moet dit maklik kan leer en kan sê: waartoe het God ons gemeente geroep en gestuur? Waaroor ons ook in die verlede te min gepraat het, is die pragtige gawes wat die Heilige Gees aan gelowiges uitdeel. Dis ’n heerlike avontuur om jou gawes te ontdek en, namate jy dit gebruik, nog meer en meer van die Here te ontvang. Die visie moet daarna voortdurend duidelik en positief aan die hele gemeente gekommunikeer word. Elke lidmaat se deelname hierin moet beklemtoon word. Alleen so sal die volle potensiaal en gawes van elkeen ontgin word. Daar moet ’n deelnemende kultuur wees wat elke lidmaat aanmoedig om betrokke te wees. Daar moet deurlopend probeer word om elke lidmaat se volle potensiaal en gawes te ontgin. Ons behoort meer te praat oor die gawes wat die Heilige Gees aan gelowiges uitdeel. Lidmate moet geleer word dat die beoefening van hulle gawes elkeen se eie verantwoordelikheid is en nie afhanklik is aan die struktuur en bedieninge binne die gemeente nie. Laasgenoemde is slegs bedoel as hulp. Die diepste verandering waarvoor ons moet bid, is dat Jesus se gesindheid van diensbaarheid by ons moet wortelskiet. Hy het na hierdie wêreld gekom om te dien, en nie om gedien te word nie (Mark 10:45 en Joh 13). So bestaan sy kerk ook in hierdie wêreld nie ter wille van hulleself nie, maar om waarlik diens te lewer aan ’n wêreld in nood. Per slot van sake is die kerk die enigste organisasie wat primêr bestaan ter wille van sy nie-lede! Die droom oor die dienswerk van gelowiges kan in die volgende punte saamgevat word - Die roeping van die kerk in sy gestuurdheid na die wêreld (Missio Dei) impliseer die toegewyde dienswerk van elke gelowige.
- Die droom is dat elke gelowige sal weet dat hy/sy van die Here gawes ontvang het en weet wat dit is.
- Die droom is dat gelowiges die vrymoedigheid sal hê om die geleenthede en die krag wat die Heilige Gees gee te benut, om in hulle daaglikse lewe gestalte te gee aan God se liefde vir hierdie wêreld.
- Met die oog hierop behoort die kerk gelowiges nog verder deurlopend geestelik te vorm, te inspireer en te ondersteun. (Volwasse leer)
- Die kerk stel self organisasie in plek waardeur gelowiges betrek word by die uitbou van die kerk en die uitbreiding en versorging van God se Koninkryk wat besig is om ’n werklikheid te word.
- Die droom is dat gelowiges ook vry is om ter wille van hulle dienswerk in die wêreld self aksies te begin, organisasies te stig, netwerke en vennootskappe te vorm ten einde die Koninkryk te bevorder.
- Lidmate moet gehelp word om elkeen verantwoordelikheid vir sy/haar dienslewering te aanvaar.
’n Laaste droom sou wees dat die kerk as organisasie met gesonde oordeel entoesiasties sy seën en samewerking aan hierdie ander organisasies, netwerke en vennootskappe wat ook in diens staan van die Missio Dei gee en dit ook ondersteun. Geesgedrewe gelowiges begryp dat die liggaam van Jesus se kerk ’n sisteem is. Alles wat in ’n gemeente gedoen word, is eintlik spanwerk en liggaamswerk. In alles is ek net maar een deeltjie van Christus se liggaam en het ek die ander baie nodig. Die liggaam kan eenvoudig nie anders werk as ledemate wat in goeie gees en gesindheid met mekaar saamwerk nie. Goeie verhoudinge is die belangrikste van alles. Waar daar liefdevolle verhoudinge is, is energie en entoesiasme. So ’n gemeente druk sy stempel op die gemeenskap af. Waar gemeentes op hierdie wyse tot nuwe lewe kom, heers ’n nuwe gees. Hulle dien die Here met vreugde en kom voor sy aangesig met blydskap. By hulle dink die leraar nie eers daaraan om venster toe te hardloop as die trein verbykom nie. Hy het nie meer nodig om die trein te stoot nie. Die gemeente is nou self ’n gevaarte wat niemand meer kan stop nie! Mag die Here elke gemeente seën op hierdie pad. [Terug na bo]
|