Uitkomste van die oudit-aktetas vir die gemeenskap:
Die gemeente weet waartoe God haar roep en hoe sy die omgewing kan dien. Die gemeente neem kennis hoe die wêreld die kerk werklik sien en verstaan hoe die sosiale konteks/kragte die alledaagse lewe van mense beïnvloed. Die gemeente verstaan hoe die omgewing die effektiwiteit van die kerk kan beïnvloed bv demografie, fabrieke/besighede wat sluit, wetgewing, regstellende aksie ens. Nuwe geleenthede vir uitreike en bedieninge word raakgesien. Verhoudinge met ander vennote in die omgewing wat saam met die gemeente ‘n verskil wil maak, word gebou. --0--
Die oudit-aktetas sluit aan by die droomkis en help met die analise van die huidige konteks in die gemeente. Vrae word gevra om te prikkel. Die gedagte is nie nou al om tot aksie oor te gaan nie. Dit word gedoen by die aksie-reistas! Die oudit-aktetas help lidmate om opnuut bewus te raak van God se spesiale en unieke roeping wat Hy vir hulle het in hulle geloofsreis. Dit help lidmate om sensitief en op die uitkyk te wees vir hulle eie passie en gawes wat die Heilige Gees skenk en om dit opnuut of dalk vir die eerste keer met vrymoedigheid uit te leef. Dit gaan nie daaroor dat die leraar se werk oorgeneem word nie. Die oudit-aktetas streef eerder daarna om toe te sien dat elkeen in die gemeente sy/haar unieke rol vind.
Deur kritiese vrae te vra oor hoe die bestaande bediening in die gemeente gedoen word, kom daar ’n proses los wat nuwe energie kan bring. Die antwoorde op die vrae gee geleentheid om weer vars na die gemeente se situasie te kyk.
Die vraag is egter:
- Watter tipe vrae behoort ons nog te vra?
- Aan wie behoort die vrae gestel te word?
Die antwoorde lê onder andere daarin dat ’n analise op drie terreine gedoen word aan die hand van ’n klompie vrae. (Julle kan self vrae formuleer – Die oudit-aktestas gee idees oor moontlike vrae.)
- Kyk weer krities na die gemeente. Dit is ‘n waarderende ondersoek (met ander woorde daar word op positiewe momente gefokus). Wat is julle identiteit op die oomblik?
- Stel vas en maak ’n analise van die omgewing waarbinne julle geplaas is. Wat is die tipiese kenmerke en aktiwiteite waarmee julle gemeenskap elke dag besig is?
- Wat is die rimpel-potensiaal van die gemeente se lidmate? Weet die lidmate wat hulle passie en gawes is en waar hulle dit behoort aan te wend?
Doen ’n analise van die gemeente
- Wat is julle identiteit op die oomblik?
- Wie is die gemeente? Mense wat lekker pannekoek bak, basaar hou, ens...
- Wie sê die gemeenskap is ons?
- En wie sê ons is ons?
- Hoe sien julle julself as gemeente?
- Dit is belangrik om die lidmate (volwassenes en kinders) te vra oor hoe hulle die gemeente sien en beleef.
- Draai al die aktiwiteite om die dominees en wat hulle sê?
- Wat is die rol en roeping van die dominee in die gemeente?
- Begryp die gemeente haar “gestuurdheid?” (sien droomkis)
- Konsentreer die gemeente net op haar eie instandhouding en oorlewing?
- Waar is God op die oomblik in ons gemeente aan die werk?
- Vertel vir mekaar die stories van hoe God Rimpels maak in die gemeente.
- Het die gemeente nie te veel aktiwiteite nie? Is die aktiwiteite in lyn met die gemeente se roeping van “gestuurheid” in die gemeenskap?
- Stel vas wat die verskillende spiritualiteite onder lidmate in die gemeente is.
- Watter lidmate het meer ’n kop-spiritualiteit (word dus geestelik verryk deur rasionele insette)?
- Watter lidmate het meer ’n hand-spiritualiteit (Word dus geestelik verryk deur dinge te doen)?
- Watter lidmate het meer ’n hart-spiritualiteit (Word dus geestelik verryk deur emosionele belewenisse)?
- Watter lidmate het ’n kombinasie van bogenoemde spiritualiteite?
Kliek op die Gereedskapkas vir:
Powerpoint-rimpel: Verskillende Spiritualiteite
- Hoe sien, beleef en kyk die gemeenskap na die gemeente?
Die volgende vrae kan help om vas te stel hoe die gemeente deur die gemeenskap beleef word.
- Vra in die omgewing rond hoe nie-lidmate die gemeente beleef en hoekom.
- Vra sulke mense wat hulle verwagtinge van die gemeente is.
- Hoe wil die gemeentelede hê moet die gemeenskap die gemeente sien?
Kliek op die Gereedskapkas vir:
Boek-rimpel: Malan Nel se Gemeentebou
Boek-rimpel: Kennon L. Callahan se 12 Effective Keys
Boek-rimpel: Christian Schwarch se Natural Church Develepment
Boek-rimpel: Nelus Niemandt se Nuwe Drome vir Nuwe Werklikhede
Gemeente-analise en gemeente-profiel vrae
Oor watter bestaande bedieninge en strukture beskik die gemeente?
Vrae oor bestaande bedieninge:
- Is die bestaande aksies, komitees, kommissies nog relevant?
- Moet die bedieninge nie meer eietydse name kry nie?
- Is daar nie te veel of dalk te min bedieninge nie?
- Watter bedieninge kan saamgevoeg word?
- Watter nuwe bedieninge moet begin?
- Sluit die bedieninge/aksies aan by die gemeente se roeping van "gestuur"-wees?
- Kan ons nie ’n Bybel Slypskool in die Ring of gemeente begin nie?
- Bestaan daar gebedsaksies?
Vrae oor bestaande strukture:
- Staan die bedieningstruktuur in diens van die gemeente se bedieningstrategie of is dit slegs maar 'n weergawe van die tipiese bedieningstruktuur van die kerklike tradisie?
- Funksioneer die kerkraad en kommissies (diensgroepe) funksioneel effektief?
- Maak die struktuur voldoende voorsiening dat elke lidmaat sy/haar gawes kan beoefen?
- Is die struktuur ampsentries (alles draai om die leiers as vertrekpunt) of gemeentesentries (die diens van gemeentelede is die uitgangspunt met die ondersteuning van die leiers) van aard?
Indien die antwoorde op bogenoemde vrae die besef bring dat verandering nodig is, moet seker gemaak word dat die kerkraad die proses van verandering korrek hanteer. Oppas vir oorhaastige verandering en/of verandering ter wille van verandering.
Miskien is die basiese strukture in orde en vra dalk net kleiner aanpassings. Oorweeg dan vrae soos die volgende:
- Is die Kerkraad nie te groot nie?
- Is die vergaderings geestelik en spiritueel verreikende vergaderings of word daar net probeer om die agendas so gou moontlik afgehandel te kry?
- Moet ’n kleiner bestuursspan nie oorweeg word nie?
- Is daar ’n visioneringskomitee?
- Is besluitnemingsprosesse deursigtig en deurdag?
Oor watter bronne beskik die gemeente tans?
Fasiliteite:
- Maak die geboue effektief en voldoende voorsiening vir die funksionering van al die verskillende bedieningsbehoeftes van die gemeente?
- Indien bykomstige geboue benodig word, is daar dalk benutbare geboue naby die kerkterrein (bv 'n skool) of moet noodwendig nuwes aangebou word?
- Kan die bestaande geboue beter benut word deur die week (bv as opleidingsfasiliteite of 'n kleuterskool?
- Moet daar dalk ’n herinneringsmuur (nisse) opgerig word?
- Beskik die gemeente oor affektiewe en voldoende hulpmiddels soos dataprojektors, skryfborde, blaaiborde, klanksisteem, ens?
- Is die kommunikasiesisteem na die lidmate effektief en word eietydse bronne daarvoor benut soos bv sms'e, epos, 'n webblad vir die gemeente, facebook (vir die jeug), ens?
- Is daar 'n doelmatige administratiewe kantoor ingerig en word die leraar(s) van beroepsmatige bedieningshulp soos bv 'n kantoor, rekenaar, ens. voorsien?
Fondse:
- Is die geldsake gesond?
- Werk die dankofferstelsel effektief en word lidmate daardeur gehelp om hulle eie rentmeesterskap met verantwoordelikheid uit te leef?
- Is die dankoffers die hoofbron van inkomste of moet dit aangevul word met ander fondsinsamelingsprojekte om die begroting te laat kloop? Indien wel, waar lê die probleem?
Personeel:
- Beskik die gemeente oor 'n goed toegerusde span personeellede?
- Weet elke personeellid presies wat sy/haar pligte is?
- Is daar met elkeen 'n deursigtige kontrak wat voldoen aan arbeidswetgewing opgestel?
- Sou sekere dienste dalk deur vrywilligers en afgetrede senior lidmate gelewer kon word?
- Word die belange en welsyn van die personeel deur die gemeente op die hart gedra?
Doen ’n analise van die gemeenskap en omgewing
Hierdie analise help die gemeente om die omgewing beter te verstaan en vas te stel hoe om ’n verskil in die gemeenskap te maak. Indien die gemeente as gestuurdes (missionêre kerkwees) relevant wil wees, sal die gemeenskap waarbinne die gemeente kerk moet wees se spesifieke beheoftes in ag geneem moet word. Gemeentes is geneig om eerstens (en soms slegs) op hulle eie interne behoeftes en onderhoud te fokus. Analisering van die gemeenskap help die gemeente om ‘n visie en aksieplanne vir die omgewing te ontwikkel.
Vra die besighede, polisie, hospitale, munisipaliteit, gemeenskapsleiers, ens wat hulle as die grootste probleem in die omgewing beskou.
Wat dink hulle sou die gemeente kon doen om hiermee te help? Dit hoef nie "geestelik" te wees nie, bv: gesonde ontspanning vir jongmense, oprigting van robotte vir veilige oorgang van kinders, help met buurtwag, skoonmaak van publieke areas, parke, ens., straatkinders – heenkome, of neem na veilige plek.
Die volgende belangrike vrae kan ook hiermee help:
- Hoeveel huise vir bejaardes, hospitale en besighede is in die omgewing? Wat is hulle behoeftes?
- Is daar ’n gevangenis naby?
- Is die gemeente langs ’n grootpad?
- Stop daar baie vragmotors?
- Is daar informele gemeenskappe naby die gemeente?
- Leef daar 'n noemenswaardige getal hawelose mense in die onmiddellike omgewing?
Probeer ook om deurlopend aktiwiteite by die kerk te organiseer wat die gemeenskap betrek. Hierdie aktiwiteite is egter daarop ingestel om mense na die gemeente te nooi en is nie die lidmate wat na die gemeenskap uitreik en hulle wêreld infiltreer nie. Dit is meer tradisionele sake soos:
- Is daar nie ’n behoefte vir ’n Engelse, Xhosa of anderstalige diens nie?
- Ondersoek Kersfees op die asblik-projekte?
- Is daar sopkombuise en klerebanke by die kerkgebou?
- Is daar alternatiewe dienste vir jongmense met orkeste en regte beligting?
- Is daar vader-seun aande/moeder-dogteraande?
- Is daar persoonlike uitnodigings na alle mense in die gemeenskap vir Nagmaal, Kersfees, Pinkster en Paasfeesdienste?
- Hou julle dienste spesiaal vir die beskermingsdienste, verplegingsdienste?
- In die somer: gratis vrugte en roomys-aande. Die gemeenskap is welkom.
- In die winter: gratis sop en brood aande. Die gemeenskap is welkom.
- Mid-weekbyeenkomste met "tekkies en jeans?" Kry interessante sprekers. Almal is welkom.
- Is daar deurnag gebedsmarathonne en gebedstasies?
- Tree geestelike sangers gereeld in die gemeente op?
- Vul aan met sake wat uniek in die omgewing is bv: etes vir vragmotorbestuurders, aksies by informele gemeenskappe, ens.
Doen ’n analise van die rimpelpotensiaal van die gemeente en lidmate
Gelowiges is mense wat deur die Heilige Gees nuut gemaak is toe hulle besef het dat God hulle uit genade gered het. Toe is hulle in Christus Jesus verander om hulle lewe voortaan te wy aan die goeie dade waarvoor die Here God hulle bestem het. (Ef 2:8-10)
Elke gelowige is ’n tempel van God in wie die Gees van God woon (1 Kor 3:16). Namate die Heilige Gees jou lewe vervul, dra jy vrug en sien mense in jou lewe die kenmerke van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal 5:22).
Gelowiges is dissipels van die Here Jesus wat deur hulle navolging van Christus groei tot geestelike volwassenheid. Solank hulle in liefde aan die waarheid vashou, sal hulle groei om meer en meer soos Christus te wees. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ‘n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde (Ef 4: 13-16).
Belangrike vertrekpunte
Ons glo dat elke lidmaat in die NG Kerk wat bely: "Jesus Christus is die Here":
- bemagtig is deur die Gees van God
- die geleentheid gebied moet word om dit te word wat hulle alreeds in Christus is
- ’n verskil kan maak in die omgewing waar hy/sy leef en werk, al is dit hoe gering
- geroep is om rimpels te maak – Waar ookal
- deur God geskep is met ’n doel
- ’n gawe(s) van die Gees ontvang het om rimpels te maak (kyk vir gawelyste in Boks 5).
Die slagspreuk van lidmaatbemagtiging is:
Gelowige: Jy is dit! Leef dit!
Hierdie beginsel is ononderhandelbaar:
Dit gaan nie oor ‘n besige gemeente nie, maar oor die wese van gemeentewees wat ’n verskil maak in hierdie wêreld!
In baie gemeentes is die gawes van lidmate tot ’n groot mate nog ’n onderbenutte bron. Die groot uitdaging is hoe ’n gemeente sy lidmate tot hulle volle potensiaal kan begelei sodat hulle optimaal en aktief betrokke kan wees met liefdevolle dienswerk binne die kerk, die wêreld en God se koninkryk. Julle gemeente het mos klaar besluit julle wil op hierdie nuwe reis as Gestuurdes na die wêreld beweeg ... Wat keer dat julle dit doen?
Twyfel jy of daar genoeg potensiaal is?
God weet watter gawes op watter tyd in elke gemeente nodig is.
Passie en gawes
Gaan doen bietjie ’n oudit en jy sal verras wees oor watter gawes en bronne in jou gemeente beskikbaar is. God skenk aan elke gelowige die Heilige Gees en gawes om sy roeping op aarde te vervul.
Vrae wat kan help :
- Is die dominee alleen verantwoordelik vir bedieninge of neem die lidmate mede-verantwoordelikheid vir die bedieninge in die gemeente?
- Is die dominee in beheer of behoort hy/sy lidmate se gawes te bevestig en uit te bou?
- Skep die gemeente vir lidmate ’n speelveld waar húlle gawes en passie tot hul reg kan kom?
- Hoe word lidmate in ons gemeente toegerus om hulle roeping en bediening te leef?
- Watter kursusse is nodig om lidmate se gawes vas te stel? Daar is onder andere die "Ontdek jou gawes" kursus asook die "Netwerk Kursus" wat kan help.
- Verstaan lidmate en word hulle gehelp en toegerus om hulle roeping as gelowiges uit te leef daar waar hulle hulle elke dag bevind? Met ander woorde "Blom waar jy geplant is!" In jou werk, jou huwelik, die skoolbanke of waar jy jouself ookal bevind? Elke lidmaat moet primêr eie verantwoordelikheid neem vir die beoefening van sy/haar gawes en dit nie afhanklik maak van die strukture wat daarvoor in die gemeente geskep word nie.
- Weet die lidmate dat elkeen van hulle geroep is?
- Watter kursusse is nodig om lidmate toe te rus vir hulle roeping?
Hulpmiddels:
Indien julle gemeente reeds bogenoemde prosesse gedoen het, het ons ’n hulpmiddel om nuwe entoesiasme en energie los te maak! Bestel een van die Rimpel DVD’s in die Gereedskapkas. Kyk daarna en bespreek wat julle ervaar het toe julle daarna gekyk het.
Vra julleself af:
Maak ons ’n verskil in die omgewing waarbinne ons geplaas is?
Het julle ook soos op die DVD iets unieks en soortgelyks in julle omgewing wat vra vir hulp en ondersteuning?
Het julle die gawes onder mekaar om ’n rimpel te veroorsaak in julle gemeenskap soos julle op die Rimpel DVD gesien het?
Dis ’n heerlike avontuur om jou gawes te ontdek en namate jy dit gebruik, nog meer en meer van die Here te ontvang.
Kliek hier vir die Gereedskapkas vir:
Preek-rimpels
Gespreksvrae-rimpels
Woord-rimpels (Bybelstudie)
Rimpel-artikel: Die Heilige Gees bemagtig ons
Rimpel-artikel: Ontsluit lidmate se potensiaal
Rimpel-artikel: DieLiggaamsmodel
Hulpmiddels om gawes te ontdek en lidmate te betrek
Rimpel-kursus: SHAPE – Passie en Gawes
Rimpel-kursus: Netwerk - Willows
Maak ’n bestekopname van waar die gemeente alreeds betrokke is.
- Waar is julle reeds betrokke?
- Hoekom is julle betrokke?
- Wie is reeds betrokke?
- En wanneer is julle betrokke?
Dit mag wees dat die konteks waarbinne die gemeente funksioneer vra dat die dienswerk in die gemeente beter geherstruktureer moet word. Dit is belangrik om saam te sit en vir mekaar die verhale en stories van die gemeente se betrokkenheid in die gemeenskap te vertel. Julle kan ook bespreek of daar ander behoeftes in die gemeenskap is waarby julle betrokke kan raak.
Was julle verbaas oor die resultate?
Wat was die grootse verrassings?
Wat was verkeerde persepsies?
Dit is belangrik om nog meer uit te vind oor die gemeente op plekke wat ons dit nie normaalweg doen nie. Die leierspan moet nie net onder mekaar praat oor die gemeente nie. Hulle moet ook hoor wat gewone lidmate, kinders, nie-lidmate en die omgewing van die gemeente sê.
[Terug na bo]