Tuis Registrasie Slegs vir die dominee Die droomkis Die oudit-aktetas Die aksie-reistas Die gereedskapkas Die evaluasielaai Terug na verwelkomingsblad


Slegs vir die dominee

Inleiding

Dalk het jy ook al gehoor van die arme dominee wat elke keer venster toe gehardloop het wanneer daar 'n trein verby kom. Dan het hy met aandag die trein dopgehou totdat dit oor die bult verdwyn het. Toe hy die dag aftree, kon iemand nie help om hom te vra waarom hy altyd so 'n belangstelling in treine gehad het nie. Nee, was sy antwoord, dis net dat dit vir my so wonderlik was om iets hier te sien beweeg sonder dat ek dit self hoef te stoot!

Inhoud:

:: Dominee, die ADGO se taakspan vir lidmaatbematiging is jou bondgenoot!

:: Dominee, jy is kosbaar

:: Die dominee as leier

:: Die dominee as Rimpel-dirigent

Doelwit
- Jy besef opnuut watter belangrike rol jy in die vernuwing van die gemeente speel.
- Jy verstaan opnuut wat jou primêre roeping is  

Uitkomste
- Besef jy is nie alleen nie – ADGO se taakspan vir lidmaatbemagtiging is jou bondgenoot
- Weet wat jou gawes is en hoe God dit wil gebruik
- Verstaan jou rol as leier van die vernuwingspan
- Verstaan jou rol as geestelike leier

Dominee - ADGO is jou bondgenoot!

Die lidmate van die NG kerk is een van haar grootste gawes en het ’n geweldige potensiaal. Die uitdaging is om lidmate tot hulle volle potensiaal te begelei, sodat hulle voluit betrokke kan wees met aktiewe dienswerk en “rimpels” maak binne die gemeente, die wêreld en God se Koninkryk.

Ja, die dominee behoort nie die trein te stoot nie.

Die vraag is net: Hoe kom die trein dan in beweging?

Die Algemene Diensgroep Gemeente-Ontwikkeling (ADGO) bestaan uit verskeie taakspanne. Een van hierdie taakspanne fokus op die inspirering en energering van lidmate. Ons wil graag jou bondgenoot wees in die nastreef van hierdie ideal om lidmate deur God se Gees in beweging te help bring. 

Lidmaatbemagtiging is ’n uitkoms en doelwit in God se Koninkryk. Ons wil graag jou as leraar se bondgenoot wees in die nastreef van hierdie ideaal om lidmate in beweging te bring deur sy Gees.

ADGO se taakspan vir lidmaatbemagtiging voorsien praktiese bedieningshulp om lidmate te help om:

  • hulle gawes te ontdek;
  • hulle rol en plek binne die liggaam te verstaan;
  • tot volwasse dissipelskap te groei;
  • hulle roeping as gestuurdes uit te leef;
  • leierskap deurlopend te ontwikkel en te bevorder.

Die Rimpel-Handleiding en proses bied hulpmiddels met riglyne wat jy kan gebruik. Dit is èèn van die maniere wat gebruik kan word om lidmate se potensiaal raak te sien en te benut. Lidmate behoort verder op hulle geestelik geloofsreis begelei te word sodat hulle nie net in die gemeente nie, maar ook in die gemeenskap en in hulle werksplekke, as gestuurdes van God kan leef.

--0--

Die fokus van die rimpel-proses is die toerusting en die bemagtiging van lidmate. Soos lidmate eienaarskap en verantwoordelikheid vir sekere aspekte van die bediening aanvaar, sal daar verrassende vernuwing plaasvind.

As leraar moet jy dit te wagte wees en dit hanteer.

In die droomkis sien ons dat God vir elke gemeente ‘n unieke droom en plan het. Die oudit-aktetas oefening wil jou help om met nuwe oë na jouself, jou gemeente en die omgewing te kyk. Om opnuut en weer ‘n keer met God se bril na jou omstandighede te kyk, maak nuwe energie los en sluit ander perspektiewe en moontlikhede oop.

ADGO: Lidmaatbemagtiging wil beklemtoon dat hierdie nie ’n “quick fix” is om gemeentes of lidmate te verander of te vernuwe nie.

Ons glo egter dat:

  • Die verskillende modelle en hulpmiddels dit makliker sal maak om so ’n rimpelproses te begin;
  • Daar word na verskillende webtuistes verwys wat voortdurend opgedateer word, sodat die inligting aktueel sal bly vir die gemeente;.
  • Elke gemeente se uniekheid word erken en daarom word daar nie net een plan vir almal voorgestel nie. Gemeentes kan keuses maak wat by hulle spesifieke en unieke behoefte pas;
  • Die gereedskapkas bied ’n wye verskeidenheid hulpmiddels, preke, gespreksvrae en nog baie meer wat met die proses van die (her)ontdekking van julle roeping in julle omgewing kan help;
  • By Bybel-Media is daar ’n reeks Rimpel DVD’s beskikbaar wat met die proses kan help;
  • Die samestelling van die Rimpels Webwerf is uitkomsgebaseerd en elke gemeente doen selfevaluering en besluit self of hulle prosesse wil herhaal of verder wil verfyn.

Ons glo die rimpelproses is ’n heerlike proses van hernude selfontdekking. Begin met die rimpelproses werk en moenie probeer om die gemeente reg te ruk nie. Dit is nie nodig dat jy as leraar al die antwoorde moet hê nie. Wees bly en vier dit wat reeds in die gemeente gebeur. Die uitkoms van die proses is dat ons opnuut verwonderd sal staan oor al die “genaderimpels” van die Here, wat lidmate energeer en inspireer tot “rimpels” van getuienis in hulle werkplekke en omgewing!

Die rimpelreeks help met:
- leraar wees;
- gelowig wees;
- gemeente wees;
en hoop om meer energie en entoesiasme te bring!

Dominee, jy is kosbaar

Om vandag ’n dominee te wees, is nie maklik nie. Daar is baie bagasie van die verlede in die kerk. Brandende vraagstukke in ons gemeenskappe vra ons aandag en debatte word gevoer oor alles en nog wat. Ons lewe in ’n tyd van baie inligting en loop die risiko om te midde van al hierdie inligting te verdwaal.

Die kerk is in ’n tyd van oorgang en moet haarself opnuut weer vind in ’n vinnig veranderende wêreld wat besondere uitdagings bied. Die chaos en onsekerheid waar dit ons gaan bring, maak eintlik die tye opwindend!? Kan ons dominees hou?

’n Dominee wat alleen in die gemeente staan behoort die volgende te kry:

  • Hy/Sy behoort alle hulp te kry om sy/haar bediening ’n vreugde te maak, te midde van onsekere en avontuurlike tye.
  • Hy/Sy voer baie keer ’n alleen-bestaan en is in ’n oorlewingstryd gewikkel oor die toekoms van die gemeente.
  • Meer as helfte van ons gemeentes in die Nederduitse Gereformeerde Kerk het net een leraar.
  • Die dominee worstel dikwels alleen met die kompleksiteite en eise van die plattelandse gemeente.
  • Dominees is dikwels al lank in die gemeente.
  • Die dominee is dikwels die enigste skakel na die ring en die sinode. Dit onderstreep die kosbaarheid van ons predikante en dat hulle ’n sleutelrol speel.

Ook in ons groter gemeentes is die eise groot:

  • Die fyn balans wat gehandhaaf moet word in kollegaskappe tussen jóú gawes en dit wat belangrik is vir die span.
  • Om deurlopend toe te sien dat jou kollega tot sy reg kom en jy nie bedreig voel nie.
  • Die kompleksiteit en die gejaagdheid van die stadslewe.
  • Die soepelheid en aanpasbaarheid van dominees en gemeente leierskap by vinnig veranderende situasies.
  • Die bestuur van diversiteit en verskeidenheid van behoeftes en voorkeure.
  • Die uitdaging om toe te laat dat die Heilige Gees vrywilligers energeer en inspireer.
  • Hy/Sy behoort ook alle hulp te kry om sy bediening ’n vreugde te maak, te midde van onsekere en avontuurlike tye.
  • Dominees is dikwels ook al lank in die gemeente.

Seker van die sinvolste prosesse in die gemeente is om vir jouself dikwels as leraar te vra wat jou rol in die gemeente is. Om jou eintlike roeping en die aard van jou teenwoordigheid in die gemeente weer en weer vas te maak, bring deurlopend nuwe perspektief en fokus in jou bediening. Die leraar is baie keer die persoon wat die eerste klippie optel en in die dam gooi om rimpels te maak.

  • Beteken dit dat die leraar geroep is om alles in die gemeente te laat gebeur?
  • Hang die “sukses” van die gemeente alles af van wat die dominee doen?
  • Is die leraar se produktiwiteit deurslaggewend?
  • Waar lê ’n leraar se kosbaarheid en sy/haar unieke bydrae?
    • Lê dit miskien in ’n “bepaalde manier van teenwoordig wees in die gemeente?
    • Is daar bondgenote en prosesse wat kan help in die kuns om op ’n bepaalde manier te wees” in die gemeente? ’n Wees en ’n teenwoordigheid wat tog ’n verskil maak: Eg, broos, swak, maar doelgerig verwonderd en helder bewus van God se fokus in jou bediening.

Dit kan wees dat jy die bediening in ’n ander lig moet sien en op ’n ander manier bewus moet word van “God se wa?”

Gaan lees gerus hierdie artikel: Rimpel Artikel: Dominee, is jy nog op die wa?

Die dominee as leier

Ons lewe in ’n tyd waar daar besondere uitdagings gestel word aan die leierskap in die kerk. Verskuiwings vind voortdurend plaas oor die manier en styl van leierskap. Die dominee behoort deurlopend anders te dink oor sy rol as leier. ’n Belangrike vraag is: is hy die leier wat die span maak of is dit die span wat die leier maak?

Leierskap in ’n diverse samelewing met soveel uiteenlopende eise en behoeftes vra vir ’n vars benadering en deeglike besinning.

Wat is die leraar se rol in die verband? (Kliek hier vir Gereedskapkas)

Die dominee as Rimpel dirigent

    Ons weet nou:

    • Die tyd dat dominees alleen alles in ’n gemeente doen, is lankal verby.
    • Die dominee is nie die enigste een wat tot die bediening geroep is nie.
    • Elke lidmaat behoort aan die liggaam van Christus.
    • Almal is geroep om ander mense te bedien met die liefde van Christus.

Die groot rede waarom die leraar spesiale opleiding ontvang het en met vergoeding vir die bediening afgesonder word, is om die Woord te bedien en die ander gelowiges toe te rus vir hulle dienswerk in die opbou van die liggaam van Christus. Dit het Paulus vir ons duidelik uitgespel in Efesiërs 4:11-12.
"En dit is die “gawes” wat Hy gegee het: apostels, profete, evangeliste, herders en leraars. Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus.”

    Vir leraars is dit ’n heerlike uitdaging om:

    • lidmate te help om geestelik te groei;
    • hulle te help om hulle gawes te ontdek;
    • hulle toe te rus en aan te spoor om inisiatief te neem met bedieninge en om rimpels te maak wat die Here op hulle hart lê;
    • ons weet nou ookal dit is die leraar en die leierspan wat soos ’n dirigent die orkes saam laat speel en wat elke instrument tot sy reg laat kom.

Die dominee as dirigent moet nie domineer of mense verhinder om hulle gawes aan te bied nie. Hy moet fyn kan onderskei om elke lidmaat se unieke gawe (klank) en potensiaal te benut.

Die gemeente moet begelei word om saam ’n pragtige klank in die gemeenskap voort te bring wat mense se harte aangryp en God se Naam grootmaak. Die kinders van die Here veroorsaak eenvoudig rimpels!

    En die “rimpeldirigent” tel sy hande op en die rimpelorkes begin speel!

    [Terug na bo]

[Teken uit]
© 2009 Rimpels. Alle Regte Voorbehou.