Vier pilare van Geloofsvorming
Geloofsvorming is die taak van die kerk. Punt. Die kerk is gevorm om te vorm! Jesus het self hierdie opdrag aan die kerk gegee: "Maak die mense my dissipels... en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het." (Mat 28:19-20). Die getuienis, aanbidding, onderrig en omgee, ja, alles wat die kerk doen vra dat lidmate geestelik gevorm word.
Wanneer ons oor geloofsvorming praat, is dit belangrik om eers vir mekaar te sê wat ons daarmee bedoel. Geloofsvorming is n doelbewuste gemeenskaplike proses om in ons verhouding met God te groei en om deur die krag van die Heilige Gees al meer soos Christus te word (vgl Ef 4:13,15).
Die proses van geloofsvorming is dus n lewenslange pad wat elke gelowige moet loop. Elke gemeente behoort n doelbewuste program van geestelike vorming te hê, al is dit soms pynlik, soos wat Paulus ervaar het: "My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry." (Gal 4:19).
Hoe kan so n program van geestelike vorming lyk? Wilhoit (1) beskryf n program van geloofsvorming wat op vier pilare rus (4 R'e):
Ontvang (Receiving):
Ons moet geleenthede in die gemeente skep waar mense die genesende, lewegewende, onderhoudende en versterkende genade van God kan ontvang. Ons het God se genade nodig om ons geestelike lewens te onderhou en te laat groei.
Hoe skep ons geleenthede om te kan ontvang?
· Deur te leer om saam God se genade te vier;
· Deur te leer om oop te wees voor die Here;
· Deur n visie te hê vir die nuwe veranderde lewe waarvoor God ons roep.
n Klimaat van openheid en gebrokenheid is bevorderlik vir die ontvang van God se genade. Die gemeente moet n plek van en vir gebroke mense wees. Die volgende kan help om n atmosfeer van ontvang te skep:
· n Diep bewustheid van ons sondes (individueel en gesamentlik) en om te weet wat die kruis oor sonde sê;
· n Bewustheid van ons natuurlike verlangens en behoeftes waaraan God alleen kan voldoen. As ons ons verlangens nie oorgee aan God nie, lei dit tot sonde en afgodsdiens;
· n Diep oortuiging dat alle groei alleen uit genade kom. Ons moet verbruikers word van God se genade. Ons het nodig om sy woorde van liefde, sy vermanings, sy vergifnis, sy bevestiging, sy lewe en nog baie ander genadegawes te ontvang.
Onthou (Remembering):
Geleenthede moet geskep word om te onthou:
· wie ons in Christus is (God se kinders wat Hy baie lief het);
· hoe ons sy kinders geword het;
· aan Wie ons behoort (nie aan myself nie, maar aan my Verlosser Jesus Christus);
· wat God se bedoeling met ons lewens is;
· waar ons wysheid kan ontvang vir hierdie lewe (in die Skrif).
Hoe onthou ons? Ons onthou wanneer:
· ons mense hoor getuig van God se werk in hulle lewens;
· ons dink aan God se werk in ons eie lewens;
· ons die stories van God se kinders oor die eeue heen hoor of lees;
· ons leer van God en sy wysheid;
· ons dink aan ons doop;
· ons nagmaal gebruik.
n Klimaat van nederigheid en leerbaarheid wat in die gemeente geskep word, kan mense baie help om beter te onthou. Daar behoort baie geleenthede te wees waar mense hulle stories kan vertel.
Reageer (Responding):
n Gemeente moet genoeg geleenthede hê waar mense op die evangelieboodskap van liefde en vergifnis kan reageer met liefde en diens aan God en aan die mense om ons.
Mense sal alleen reageer as die evangelie hulle verander het. Reaksie is die gevolg van n veranderde hart. Ons moet leer dat God ons verander wanneer ons ons lewens goed leef, wanneer ons in liefde na ander uitreik en wanneer ons God en ander dien.
Die beste benadering om mense te help om te reageer is om:
· Ons te verwonder oor God se genade;
· Te besef ons is pype/kanale om God se genade na ander te dra en nie emmers wat dit vir onsself moet hou nie. Genade kom na ons toe, gaan deur ons, gaan na ander toe.
Gelowiges word geestelik die beste gevorm wanneer hulle dien en uitreik, wanneer hulle reageer op God se genade in hulle eie lewens!
Verhoudings (Relating):
Verhoudings speel n geweldige groot rol in geloofsvorming. n Gemeente behoort baie klem te lê op verhoudings. Ons Skepper het ons immers ontwerp om binne verhoudings te lewe en te groei, n verhouding met Hom en verhoudings binne die geloofsgemeenskap. Ander mense is van die belangrikste bronne van God se genade in ons lewens. Daarom moet verhoudings vir elke gemeente kosbaar wees.
Elke gelowige moet soek na geestelik verrykende verhoudings in sy/haar lewe, verhoudings van liefde en diens. Dit moet vir elkeen n prioriteit wees om na plekke soos kleingroepe en diensgroepe te gaan waar die vorming en groei van verhoudings aangemoedig word. Ons moet in ons geloofsgemeenskap belê!
Verhoudings vra van ons n verbintenis (commitment) tot gemeenskap. Ons moet besef dat ons die kerk baie meer nodig het as wat die kerk ons nodig het.
n Gemeente wat sy roeping uitleef om n kanaal van God se genade na die wêreld te wees, sal in sy program van geloofsvorming aan al vier pilare behoorlik aandag gee.
Ben van Dyk (Predikant in Sinodale Diens vir Gemeentebedieninge en Ondersteuningsdienste in KwaZulu-Natal).
1. Wilhoit, James C. Spiritual Formation as if the Church Mattered, Growing in Christ through Community, Baker Academic, 2008.