Nuusbrief aan elke Rimpelsgemeente
Augustus 2011
Aan elke Rimpels-vriend
Die Atlantis-ruimtetuig het toe veilig geland. Dié getroue galaktiese werkesel het 30 jaar lank diens gedoen, ons denke verryk en ons nuuskierigheid aan die gang gehou. Dit is ʼn merkwaardige prestasie van die mensdom. In die jaar 2020 besoek ’n ruimtetuig dalk vir Mars. Iets om na uit te sien! Die heelal is groot en wyd en die Here laat toe dat die stippeltjie, mens, dit ondersoek, bestudeer en ontdek – en sodoende ʼn verskil maak.
In Noorweë is die stad Oslo in pyn en hartseer gedompel. Iemand het sy eie standpunt en siening te ernstig opgeneem. Eers ʼn ontploffing en toe later 76 jongmense koelbloedig doodgeskiet en nog ʼn klomp gewond – ʼn spoor van verwoesting. Die Noorweërs en die wêreld staan verbysterd en verstom oor waartoe die mens in staat is. In Suid Afrika word ʼn bekende filosoof in sy kantoor aangerand omdat iemand nie van sy uitgesproke standpunt hou nie.
Die mens se potensiaal kan verbasend positief wees, of dit kan mense skok en traumas veroorsaak waar ons dit die minste verwag. Waar die mens is, is daar noodwendig rimpels: opbouend of afbrekend.
Om deel van ʼn gemeente te wees is om opbouende rimpels te maak. Op hierdie punt kan Rimpels se webwerf julle help om ʼn verskil te maak.
Klik op www.rimpels.co.za vir idees en ’n proses om God se koninkryk te laat deurbreek in ʼn wêreld met unieke en akute uitdagings.
Besoek gerus Rimpels se webwerf www.rimpels.co.za vir nommerpas hulpmiddels en
raak voorstelle sodat julle deur rimpels mense opbou, nie afbreek nie.
Rimpels-werf
--------------------------------
Rimpels se webwerf is spesiaal so ontwerp en ingerig om julle as gemeente te help met toerusting en inoefening van vaardighede. Dit voorsien verskeie houers met hulpmiddels om die Rimpels-proses in julle gemeente te aktiveer en self te bestuur. Dis waar die Gereedskapkas en die ander vyf houers julle hand sterk.
Hier is geen voorskrifte of bloudrukke nie, want ervaring het geleer jy kan ’n gemeente druk tot hulle blou is ... die proses moet uit die hart van die gemeente kom en is uniek vir elke gemeente se samestelling.
ONTHOU: Rimpels bied jou vars ontwerpe en hope toerusting uit die Gereedskapkas – net ʼn klik ver.
Rimpels-wenke
--------------------------------
Rimpels se unieke RPS (Roetepreekskets) help om die boodskap by vandag te laat aansluit. Dit is duidelik nie ’n volledige preekskets nie. Dis eerder ’n GPS (roetewyser) wat die Woord op mense se daaglikse lewe help afstuur.
Rimpels se RPS’e vir die wintertyd
- RPS 12: ’n Groot rimpel … God in die beskuldigdebank
Hier is ʼn ware verhaal wat ʼn mens aan die hart gryp. ʼn Jong meisie van 18 jaar oud in ʼn plattelandse plekkie het uiteindelik haar motorlisensie bekom. Nadat sy haar nuutgevonde vryheid ʼn week lank kon geniet, was sy een Sondagmiddag ná Bybelstudie op pad terug huis toe. Toe gebeur iets verskrikliks. Sy ry van die pad af in ʼn boom vas. Op slag dood. Die geskokte gemeenskap se vrae skeur deur jou geloof … Lees verder, klik op die Gereedskapkas onder Rimpels-RPS.
- RPS 13: Die seisoen van die lewe
Daar gebeur dit toe! Die winter het uiteindelik vir die binneland met alle mag deurgebreek, met ʼn verrassende PowerPoint-vertoning van God se krag. Daarmee saam vorm ’n wit ryplaag oor die Karoo, die ergste in 30 jaar. Die berge van die Koue Bokkeveld kruip onder ’n sneeukombers weg. Die sneeulyn skuif tot by plekke wat nie normaalweg sneeu ken of verwag nie – sprokiestonele selfs in Mpumalanga en KwaZulu-Natal se laer middellande, wat poskaartmooi lyk. Tog, teen jou wange voel jy die verhoog waarop en die dekor waarteen jou lewe afspeel, het verander … Lees verder, klik op die Gereedskapkas onder Rimpels-RPS.
Rimpels se wenke vir Augustus en September:
- Wenk: Rimpels-week vir lente
Wat van ’n Rimpelsweek vir September om die lente in te wag? Dink aan die tema van verwagting. Party mense het verwag dat 21 Mei 2011 die datum van die wederkoms sou wees. Ander het die verwagtings aangepas: Dit gaan later in 21 Oktober 2011 wees. Nog ander merk die jaar 2012 as die jaar van die eindtyd op hulle geloofskalender af. Dit lei tot wilde bespiegelings en goedkoop toekomsvoorspellings onder gelowiges vandag. Hierdie gesprek oor die eindtyd behoort eerder deur plaaslike gemeentes gefasiliteer te word. Hier wil Rimpels vir julle ’n venster van geleentheid bied. Organiseer in September ’n Rimpels-lente-week waar gemeentelede met mekaar oor die eindtye gesels. Bemagtig op die manier die lidmate vir hulle geloofsreis in Oktober met die wydlopende uitdagings oor “die eindtyd in ons tyd”. Hierdie tema is nou in die nuus.
Kyk in die Gereedskapkas onder Rimpel-Gespreksvrae vir voorbeelde hoe om sulke weke op te stel en in te klee. Julle kan by so ’n week die volgende temas bespreek:
- Die wegraping. Wat is dit? Wie gaan bly en wie gaan gly?
- Die duisendjarige vrederyk. Gaan daar letterlik 1 000 jaar lank vrede op aarde wees? Moet dit nog aanbreek?
- Wanneer kom Jesus weer? Of het Hy reeds op ’n geestelike manier vir gelowiges gekom?
- Die verband tussen die hier-na-maals en die hier-nou-maals. Is hemel en hel eerder op aarde?
- Wat is die “tekens van die tye”? Kan ons dit van die wêreldnuus aflees?
- Hoe wag die gelowige op die wederkoms? Wat beteken gereed en paraat wees?
(Vir meer besonderhede oor die eindtye en hoe om dit te interpreter, kyk Rimpels se lente-nuusbrief in September.)
- Wenk 3: Organiseer ’n Stilwordnaweek
Hou ’n stilwordtyd of retrait van Saterdag 14h00 tot die Sondag 12h00. Neem die gemeentelede na ʼn “eiland”-situasie, ʼn lekker rusoord naby julle gemeente. Organiseer dit en werk saam met die plaaslike gemeenskap om daarvan ʼn sukses te maak.
Werk deur die eerste gedeelte van die “goue” boek van Thomas à Kempis – Die navolging van Christus – Rigtingwysers vir die opregte geloofslewe.
- Elke persoon lees dit op sy eie en maak aantekeninge in ’n lewensjoernaal.
- Hou daarna drie kort groepbeprekings gedurende die naweek waar julle die fokuslyn van die Navolging se eerste tema deurwerk.
- Word stil saam met Taize-musiek, Beethoven se sesde simfonie of die musiek van die Johannes Passie.
- Laat die stilte met julle elkeen praat en ontmoet God in die hart.
Julle kan die boek by Bybel-Media bestel: bestel@bmedia.co.za of 0860 26 33 42. Klik hier vir meer inligting oor Die navolging van Christus - Thomas à Kempis.
Rimpels-fokus
--------------------------------
Hierdie proses word gedra deur Rimpels se projekspan. Hulle fokus is om te sorg dat julle deskundige toerusting kry. Dit bied hulle deur multi-media wat daarop afgestem is om julle as gemeente by julle omgewing en samelewing te laat inwerk en dáár ’n verskil te help maak.
Registreer op die Rimpels-webwerf en bestel nou jou produkte uit die Gereedskapkas
en benut die korting van tot 10% op produkte.
Rimpels-kring
--------------------------------
Die Rimpels-proses gaan nie net oor die Rimpels-kring van medewerkers en mense wat dieselfde dink nie. Dit is juis ’n uitkring-proses. Hier is julle kans om werkbare wenke oor die Rimpels-proses in julle gemeente met ander R-vriende te deel. Gebruik gerus julle forum om julle eie bydraes te opper. So ’n bydrae kan ’n R-wenk of R-verhaal behels wat ander intekenaars in hulle proses bemagtig. Hiervoor ken die Rimpels-span ’n prys toe met die vriendelike vergunning van Bybel-Media wat een van hulle topprodukte beskikbaar stel.
Verlede maand se prys is die DVD E-Puzzle.
Dit gaan aan Ester Muller vanuit die winternat Wes-Kaap vir haar netjiese, sober en raak uiteensetting. Ons ken hierdie prys die eerste keer toe aan ’n lidmaat en nie ’n gemeenteleier nie. Dit wys ons pragtig hoe ’n “gewone” gemeentelid die Rimpels-proses beleef.
Rimpels=beweging=groei (lewe). Groei is onmoontlik sonder nuwe inligting en sonder groei gaan jy, wel, dood! God se Gees is die Groot Rimpelmaker maar as jy nie in die water is nie, kan jy nie ʼn rimpel vang of aangee nie. Ons gemeente leef daarom moet ons hierdie goddelike afsprake nakom.
Ester Muller |
Vir volgende maand se wenbydrae stel Bybel-Media stel hierdie boek beskikbaar. Hier het ons spesiaal een uitgekies met ’n lente-tema wat julle geloof kan verryk.
|
Die Here het opgestaan…en jy sal ook!
Prys: R69.95 (BTW ingesluit)
KOOP HIER >>
Predikers staan soms beangs voor die geheimenis en verskrikking van lewe en dood. Hierdie boek sal hulle hopelik help om die uniekheid van begrafnisprediking opnuut te beskou.
|
Jou R-bydrae en reaksie
Deel die R-verhaal in julle gemeente. Vertel gerus julle R-vriende op hierdie webwerf daarvan. Maak gebruik van die forum wat hierdie nuusbrief bied.
- Watter waarde het die Rimpels-reis vir julle as gemeente toegevoeg?
- Watter wenke het julle wat ander gemeentes dalk met hulle proses kan help?
Stuur die voorstelle en bydraes na francois@uitsigkerk.co.za (Onthou om jou naam en kontakbesonderhede by te voeg. Elke wen-bydrae sal in die daaropvolgende nuusbrief aangekondig word.)
In die volgende Rimpels-nuus
--------------------------------
Hou September se lente-uitgawe dop vir nuwe fokus op die volgende:
Die Rimpels-proses veral ingestel op verwagting: die eindtye en hoe ons die regte rimpels hieroor moet maak.
- Die Rimpels-DVD’s in ’n nuwe baadjie én met ’n nuwe maatjie, die volgende DVD, wat spesiaal op lidmaatbemagtiging afgestem is, Vertoef.
Met ons vooruitsig reeds op die nuwe seisoen,
geniet dit om te leef as God se nuwe mense in sy nuwe wêreld.

|