Nuusbrief aan elke Rimpelsgemeente
Februarie 2011
Beste Rimpels-vriend
Die kersboom is opgeruim, die blinkers en liggies afgetakel en die meeste nuwejaars-voornemens reeds daarmee heen. Maar Januarie en Februarie is Epifanietyd. Saam dink ons oor die praktiese betekenis van Jesus se koms – God se verskyning in die gestalte van ʼn mens om ons te red!
Jesus se koms het ʼn nuwe perspektief gebring oor hoe ons die lewe en ons werk elke dag sien. In die gemeentes beleef ons dikwels waar lidmate vertel hoe hulle Jesus prakties in hulle lewe ervaar. Ons ervarings is onder meer hoe ons verstand en denkvermoë (die rede) alles om ons wil beskryf en omlyn – in netjiese vorms giet. Daarby wil ons ook deur ons emosies dinge beleef en direk aanvoel.
Geloof is om bewus te wees van iets meer as ons verstand en ons gevoelens; die vermoë om tussen die lyne die rimpels van God se nabyheid te onderskei en te lees. Ons is dan nie so afhanklik van die vorm wat ons as mense aan dinge gee nie. Die geloof begryp iets van die vormlose Heilige Gees wat waai waar Hy wil. Die geloof ken, bely en is bewus van die Hoop wat ons nie sal teleurstel nie. In die lig hiervan, ʼn paar wenke vir die prediking.
Met die oog op Epifanie
Rimpels se wenke vir Januarie/Februarie
Twee RPS-wenke vir epifaniepreke
(Rimpels Roetepreeksketse gekoppel aan nuusgebeure en belewinge van die dag)
Dit is nie volledige preeksketse nie. Die RPS is soos die GPS van preekmaak – net roeteaanwysers oor hoe om die preek prakties te laat grondvat.
1. RPS-wenk 1: Die uitwerking van Bonnievale se Kannas op die gelowige
Bewys jouself die guns as jy weer Kersfeestyd in die Kaap is. Draai so ’n entjie van Swellendam op die N2 na links met die Stormsvleipad en ry links van Bonnievale verby. Namakwaland kan gaan slaap! Kilometers ver word jy as reisiger belyn met die verruklikheid van die mooi van kannas vol in die blom ... Lees verder, klik op die Gereedskapskas by www.rimpels.co.za
2. RPS- wenk 2: Beaufort Wes se poeiergrond en 5 Iiter-kanne van ʼn 82 jarige!?
82 jaar oud maar nog bewus van rimpels maak. Hoe kon sy help om ’n dorp se dors te les? Lees verder ... klik op die Gereedskapkas by www.rimpels.co.za
Rimpels bied jou vars ontwerpe en hope toerusting uit die Gereedskapkas – net ’n klik ver.
Rimpels-werf
--------------------------------
Wees ingelig en kry nuwe idees van die Rimpels-webwerf af:
1. Waardevolle boumateriaal uit Rimpels-artikels
Lees weer die vier jongste Rimpels-artikels oor Lidmaatbemagtiging met die oog op 2011
- Lidmate soek insig en wysheid
- Voortgesette geloofsvorming van volwassenes tot 80 ná belydenis van geloof.
- Rimpels uit Kaapstad – Lausanne III Konferensie
- Rimpels uit die verlede – Die Hervorming!
Kyk in die Gereedskapskas onder Rimpels-artikels.
2. ʼn Rimpelweek uitgeknip vir Maart 2011
Ons beweeg die nuwejaar binne met ’n nuwe Rimpelweek-voorbeeld – gesprekke oor geloofsvorming. Kyk in die Gereedskapskas onder Rimpels-gespreksvrae.
Benut gerus hierdie wenke. ’n Rimpelweek bemagtig en inspireer lidmate vir die lewe!
3. 40 DAE-Bybelstudies in die immergroen Rimpels-styl
Onthou in julle beplanning vir 2011 die 40 DAE-Bybelstudies met ’n rimpels-fokus in gedagte te hou.
Die Bybel is in ons tyd opnuut in die kollig. Tog bly die boodskap aktueel en die evangelie bly ons verras. Fokus 40 dae lank op Bybelboeke deur bepaalde riglyne te volg. Dit help lidmate om die Bybel in die verskillende lewensfases vir hulle geloofsgroei te inkorporeer. Elke intekenaar kan nou die volgende volledige 40 dae-verdiepingstudies uit 1 Korintiërs van die Rimpels-webwerf aflaai:
ONTHOU: Rimpels uit 1 Korintiërs – Praktiese riglyne oor die lewe en aktuele onderwerpe wat vandag nog in die gemeentes leef.
4. Rimpels-DVD’s
Kyk in die Gereedskapkas vir toepaslike DVD’s wat die veelkantigheid van ons geloofsreis hanteer.
Hittebestand is die jongste vrystelling in die reeks van drie DVD’s in ’n kragtige visuele verteltrant.
Registreer op die Rimpels-webwerf en bestel nou jou produkte uit die Gereedskapkas en
benut die korting van tot 10% op produkte.
Rimpels-wenke
--------------------------------
Benut die volgende wenke om jou met die Rimpels-prosesse in julle gemeente te help.
1. Resensies oor twee handige boeke vir lidmate se geloofsgroei

|
Wat dissipelskap kos? Genade wat alles van jou vra.
Dietrich Bonhoeffer
’n Klassieke edelsteen wat lidmate begelei in die kwaliteit van dissipelskap. God se genade is gratis, maar nie goedkoop nie. Die vraag is nie of ons glo nie, maar hoe ons doen wat Christus van ons vra. Hoe vaar ons geloof te midde van die storms en stroomversnellings van ons tyd? |

|
Om te dans in die storm – op soek na die uitweë uit die doodloopstrate van die lewe Johann Symington
Wees saam met Johann ʼn student van die lewe. Wees ernstig sonder om swaarwigtig te wees. Beleef humor sonder ligsinnigheid en ironie sonder sarkasme. Ervaar deernis en leer om in die geloof te dans te midde van die storms in jou lewe. |
Registreer op die Rimpels-webwerf en bestel nou jou produkte uit die Gereedskapkas en
benut die korting van tot 10% op produkte.
Vir ’n volledige kernresensie oor elke publikasie, kyk by die Gereedskapkas onder Rimpels-resensies.
2. Rimpels-RPS
Benut gerus die Rimpels-roetepreeksketse 4 en 5 (waarna ons reeds verwys het) met die oog op Epifanie:
- Terugkyk op die feesgety en vakansie met die praktiese betekenis van God-by-ons in Jesus.
- Vooruitkyk na die nuwe jaar met sy vars uitdagings, verskillend binne elke lewensfase.
Kyk by die Gereedskapkas onder Rimpels-RPS.
Rimpels-fokus
--------------------------------
Die Rimpels-projek: Rimpels se projekspan het reeds hulle projekplan vir 2011 begin aktiveer. Die span kom (DV) Mei-maand bymekaar om meer toepaslike R-toerusting te vind. Ons ondersoek en beplan verdere materiaal wat aan gemeenteleiers riglyne kan verskaf oor bemagtiging van lidmate. Lidmate behoort deurlopend met die nodige lewensvaardighede en “coping skills” toegerus te word binne elkeen se betrokke lewensfase.
Rimpels-kring
--------------------------------
Maak gebruik van hierdie instrumente. Dit gee jou kans om jou bydrae tot die Rimpels-projek te vergroot. Vir die beste bydrae of R-wenk word daar per maand ’n prys toegeken. Meer hieroor in die volgende Rimpel-Rimpels!
R-voorstellebussie Maak sommer van hierdie nuusbrief gebruik om jou voorstelle deur te gee – hoe kan die volgende sake verbeter word?
- Die Rimpels- tuisblad
- Die Gereedskapkas met die verskillende vakkies en hulpmiddels
- Die Rimpel-Rimpels, hierdie nuusbrief as sodanig
R-bydraes en reaksies
Wat wil jy deel oor die Rimpels-prosesin julle gemeente?
- Watter waarde het die Rimpels-reis vir julle gemeente toegevoeg?
- Watter wenke het julle wat ander gemeentes dalk met hulle proses kan help?
Hier is nou jou kans. Dalk kan jy ander Rimpels-intekenaars help met nuwe insigte of om hindernisse uit te wys wat keer dat die rimpels in die kerk uitkring.
Stuur die voorstelle en bydraes na ... francois@uitsigkerk.co.za
Belangrik: Is jy al vertroud met die Rimpels-prosesse om julle gemeente met geloofsvorming te help? Jy kan die Rimpels-handleiding en CD bestel by ilse@rimpels.co.za. Die pakket is gratis en slegs posgeld word gehef. Onthou net om jou volledige kontakbesonderhede te verstrek.
Mag julle 2011 ingaan in die Lig van Hom wat die hele wêreld se donkerte nie kon uitwis nie.

|