Nuusbrief aan elke Rimpelsgemeente
September 2011
Aan elke Rimpels-vriend
Die lente is op ons, al wil die weer nie oral saamspeel nie. Dit is asof die jaar asem ophou vir nuwe belewings. As navolgers van Jesus beweeg ons met nuwe verwagtings in koninkrykstyd in (ná Pinkster tot voor Advent). Die jaar tel spoed op en volgende maand is alle gemeente-oë op die Algemene Sinode gerig. Dan besin die kerk oor talle pakkende sake soos die doop, hoe ons die Bose moet opvat, ons roeping in die samelewing en hoe om lidmate te bemagtig vir die uitdagings van ons tyd.
Die kollig vir verwagtings skuif ewe sterk na die sportveld: rugby-wêreldbekertyd! Kollektief as ’n land hou ons asem op vir die Springbokke. Voor ons nog asem uitblaas, is daar geloofsgemeenskappe wat asem intrek oor die naderende wederkoms wat hulle op 21 Oktober dié jaar verwag.
Te midde van al hierdie gebeure gaan die plaaslike gemeentes gewoon getrou voort. Elke Sondag maak hulle die kerkdeure oop en die lewende Woord vat grond in mense se hart. Dit is ’n tyd waar groepe saam aanbid en saam hulle lewende verwagting in hulle Here bevestig. Dit juis hierdie verwagting wat lidmate aanvuur en nuwe energie gee om die verskil te maak waar hulle leef, werk en ontspan.
Dit is nie net olifante wat rimpels kan maak nie (lees later in die nuusbrief), maar gemeentes wat die proses onder lidmate aan die gang kry. Hulle voer getrou hulle opdrag uit met ʼn Rimpels-week hier, en ʼn reeks oor 40-dae geestelike verryking daar. Julle as plaaslike gemeente is uitstekend geposisioneer om op julle omgewing in te werk, met resultate wat uitkring.
Lees verder oor hoe om vir God se koninkryk rimpels te maak onder leiding van sy Gees.
Besoek gerus Rimpels se webwerf www.rimpels.co.za vir deurdagte idees en planne om lidmate te begelei in hulle taak as gelowiges in hulle samelewing en omgewing.
Rimpels-werf
--------------------------------
Rimpels se webwerf is spesiaal vir die proses van bemagtiging opgestel. Sien lente as tyd waarin julle “huis skoonmaak” en nuwe toerusting ondersoek en benut. Daar is ’n Gereedskapkas en nog vyf ander houers vol hulpmiddels, wenke en verrassings (waaronder een houer net vir jou as leraar).
Die strategie is: Bemagtig julle eers self met uitgesoekte rimpels-gereedskap. Sodoende kan julle ’n proses aan die gang kry wat die beste by julle gemeente se behoeftes en fokus pas, en dit ingelig bestuur.
ONTHOU: Rimpels bied jou vars ontwerpe en hope toerusting uit die Gereedskapkas – net ʼn klik ver.
Rimpels-wenke
--------------------------------
Rimpels se unieke RPS (Roetepreekskets) wil jou help om jou boodskap vir vandag te vertolk. Soos die naam aandui, is dit nie ’n volledige preekskets nie. Dit is eerder ’n GPS (roetewyser) wat die Woord by mense se daaglikse vrae en behoeftes uitbring.
1. Rimpels se RPS vir lente en koninkrykstyd
Green-Cross skoene en skakerings van dankbaarheid
Dis lentetyd en die vrou het die gewoonte om haar man se kas leeg te maak van oortollige klere en skoene. Sy neem dan die pakkie werk toe en kyk wie die Here oor haar pad stuur wat swaar kry.
Nie lank nie, of die tuinopsigter staan in haar kantoor. Dis ’n middeljarige man van in die vyftigs. Hy wil R20 leen (sy weet dié “lening” is eerder ’n vaste bydrae tot die tuinopsigter-fonds, soos die vorige R20-“lenings”). Hierdie keer gee sy die R20, met nog iets by – ’n heldergeel plastieksak met Green Cross-skoene in ... Lees verder: Klik op www.rimpels.co.za en kyk in die Gereedskapkas by die nuutste Rimpels-RPS.
2. Tema vir ’n Rimpels-week
Organiseer ʼn Rimpels-week vir julle gemeente en die gemeenskap om julle.
Wat is die brandpunte in julle omgewing wat nou gesprek en besinning nodig het? Nooi vaardige en kundige sprekers uit julle omgewing wat kan help om volwasse gelowiges verder te vorm en in die geloof te bemagtig. Vir ʼn voorstel van moontlike temas en ’n program vir só ’n Rimpels-week, kyk in die Gereedskapkas onder Rimpels-gesprekstemas of klik hier.
Rimpels-fokus
--------------------------------
1. Verslag by die Algemene Sinode oor lidmaatbemagtiging
Rimpels vorm deel van die ADGO, die Algemene Diensgroep vir Gemeente-ontwikkeling. Ons fokus op prosesse wat lidmate bemagtig om saam ʼn verskil in hulle leefwêreld te maak.
Die Rimpels-span het ’n diepgaande verslag vir die Algemene Sinode voorberei. Hierin word die Sinode gevra word om die saak van lidmaatbemagtiging in gemeentes te ondersteun. Die klem val veral op die verdere geloofsvorming van volwassenes in hulle verskillende lewensfases. Die doel is om hierdie lidmate te begelei met praktiese riglyne vir hulle lewe en roeping as gelowiges in die gemeenskap wat hulle bedien.
Die verslag stel die uitkoms voor waarvolgens volwasse lidmate deurlopend geïnspireer, en besiel word met nuwe energie deur God se Gees. Sodoende word hulle aangevuur om entoesiasties hulle getuienistaak in die wêreld te kan uitvoer.
Dit is deurslaggewend dat niks in die weg van lidmate moet staan om hulle roeping as woorddraers in die wêreld na te kom nie. Daarom behoort daar bevoegdheid verleen te word aan lidmate om ook die Woord te mag bedien met toepaslike begeleiding en ondersteuning. Dit is noodsaaklik vir hierdie tye vol uitdagings.
Wat kan jy as Rimpels-vriend doen?
- Doen voorbidding vir hierdie inisiatief dat die lidmate steeds dringend, soos in die verlede, deskundig bemagtig kan word.
- Versprei die Rimpels-motief: Vertel kollegas en vriende; moedig hulle aan om die proses in hulle gemeente voor te stel of te loods.
2. Kyk wie maak reuse-rimpels

Uit: Die Burger 7 Julie |
Hier is ’n spesiale rimpels-oomblik! Olifante is afgeneem waar hulle in die water golwe maak. Die kenners reken hulle soek moontlik kos. Ander meen dat hulle bloot lustig speel, baljaar. Volgens sommige geleerdes speel perde ook dikwels só as hulle in die water staan.
Dis aangrypend watter uitwerking hierdie olifante se optrede het op mense wat dit kon sien. Die olifante maak rimpels op die water vir almal om te sien en dit te geniet. Hierdie diere leef voluit en vind op die oog af pret hierin.
Onthou hierdie waarheid: Die rimpels wat jy maak, raak spoedig groter as jyself. Ons as Jesus-mense getuig by uitstek deur ons lewe en optrede vir ʼn groter saak en – nog belangriker – ons geniet dit om te sien hoe dit mense se lewe aanraak en verander.
Die Rimpels-span bied julle deur multi-media die nodige toerusting en hulpmiddels. Dit help julle ontspan om saam met die lidmate die verrassings op die pad te geniet. |
Registreer op die Rimpels-webwerf en bestel nou jou produkte uit die Gereedskapkas
en benut die korting van tot 10% op produkte.
Rimpels-kring
--------------------------------
Die Rimpels-proses begin nie by ander nie, maar by elkeen. Wanneer julle in julle gemeenskap uitbeweeg en na ander uitreik, kring die proses uit. Op dié manier “netwerk” ons met ander Rimpels-gemeentes. Hierdie nuusbrief wil julle nie net inlig nie, maar ’n gesprekforum skep waar julle wenke en voorstelle kan uitruil.
Om julle ook hierin te bemagtig, word ’n prys toegeken aan ’n bydrae wat soos die olifante help rimpels maak. Dus het ons hierdie keer ’n Jumbo-pakket vir die beste bydrae.
Vir volgende maand se wenbydrae stel Bybel-Media hierdie pakket beskikbaar.
|
FLAM CD en Volume 3 Musiekboek
Prys: R200.00 (BTW ingesluit)
KOOP HIER >>
’n Versameling gewilde afrikaanse praise en worship songs
Hierdie bundel bestaan uit ’n seleksie van veertien liedere uit ’n korpus van byna 400 liedere wat op die webtuiste www.flam.co.za beskikbaar is. Die liedere in die bundel is ook beskikbaar op die CD f-luister.
|
Jou R-bydrae en reaksie
Deel die R-verhaal in julle gemeente. Vertel gerus op hierdie webwerf julle R-vriende daarvan. Onthou die olifante: Maak rimpels, maar meer nog, geniet dit saam met ander!
- Watter waarde het die Rimpels-reis vir julle as gemeente toegevoeg?
- Watter wenke het julle wat ander gemeentes dalk met hulle proses kan help?
Stuur die voorstelle en bydraes na francois@uitsigkerk.co.za (Onthou om jou naam en kontakbesonderhede by te voeg. Elke wen-bydrae sal in die daaropvolgende nuusbrief aangekondig word.)
In die volgende Rimpels-nuus
--------------------------------
- In die gees van lente en nuwe lewe, het die Rimpels-span die verskillende Rimpels-houers deurgewerk en dit meer gemaklik en eietyds verpak. Jy, as Rimpels-vriend, kan die eerste in die houers loer.
- Raak bekend met die reeks: Spesiale prys vir die volle reeks Rimpels-DVD’s (in ’n nuwe, eietydse omslag) met die jongste toevoeging: Vertoef.
- Alle oë op die Algemene Sinode: Oktober se nuusbrief gaan ’n in-diepte kyk gee op die sake vir die sinode, met spesiale fokus op die Rimpels-voorstel.
Leer dié lente by die olifante – maak rimpels wat groter as jyself word en geniet dit om ander
daardeur aan te raak en te verander – só verander jy ook self.

|